Gallery
HARTENBOS SPORTNUUS - Die Hartenbos-rolbalklub het Saterdag, 3 September 'n mannedag vol opwinding, lekker lag en groot kompetisie gehou.
Die vroue van die klub het geweet wat die manne nodig het om goed en baie spesiaal te voel. Hulle het daarom besluit om die manne goed te bederf.
FOTOGALERY: Hartenbos-rolbalklub se mannedag
Die vroue met Marita Carse aan die stuur van dié skip is vrye teuels gegee om mooi te maak en Riana Nel se kop en talente het begin werk en elkeen het saam ingeval. "Al die vroue het elkeen 'n groot bydrae gelewer en die dag het fantasties uitgedraai," vertel Hannetjie Smit.
Behalwe vir die pragtige tafels is die manne ook goed bederf. Die meeste van hulle is by die motors verwelkom en hul rolbalsakke is klub toe gedra deur die vroue. 'n Gebaar wat sommige stomgeslaan het.
Joe van Niekerk wou die vroue ontglip en het sy tas so stil-stil self probeer indra, maar hy is gewaar, en toe is ook sy tas geneem. Hy het daarna laggend gesê: "My pa draai in sy graf om as hy sien 'n vrou dra my tas."
Uitslae
Louis Visser, Peet Meyer, André Taute en Gerhard Pretorius van die Hartenbos-rolbalklub was die wenners van die dag. In die tweede plek was die span van Sedgefield-rolbalklub, Pieter Griesel, David Cant, Chris Cannon en Charles Fontini.
Derde was Ferdi de Witt, Philip Lancaster, Charles Collen en Kobus Kriel ook van die Hartenbos-rolbalklub.
"So 'n dag kan natuurlik nooit plaasvind sonder ons borge nie - of dit nou die groot prysgeld of net skenkings of 'n koopbewys is. Daarvoor is ons geweldig dankbaar en vol waardering vir al ons borge wat die dag moontlik gemaak," het Smit gesê.
Die vroue het ook al die manne van Stilbaai, Oudtshoorn, Mosselbaai, Vista, Groot Brak, George, Sedgefield en Knysna bedank vir hul teenwoordigheid asook die 15 Hartenbos-spanne. "Sonder julle sou hierdie heerlike dag nie kon plaasvind nie," het Smit gesê.
Na afloop van die verrigtinge is aan die vroue gevra of die moeë manne se rolbalsakke teruggedra gaan word na hul motors toe, maar aan daardie versoek is nie voldoen nie, want genoeg bederf is genoeg.
"Wat 'n wonderlike verrassing het die vroue vandag vir ons manne gehad van ons gearriveer het tot die laaste oomblik," het Lappies Labuschagne, die president van die klub, gesê.
"Die saal was ongelooflik mooi, die kos was heerlik en geen moeite is ontsien nie," sê Labuschagne. Hy het ook almal bedank wat deel van die mannedag was en beaam dat daar nie nog so 'n rolbalklub soos Hartenbos s'n is nie.
President van Hartenbos-robalklub, Lappies Labuschagne (links) hier saam met die span van Sedgefield wat tweede gekom het. Hulle is Pieter Griesel, David Cant, Chris Cannon en Charles Fontini.
Die span van Hartenbos wat derde gekom het, Ferdi de Witt, Philip Lancaster, Charles Collen en Kobus Kriel. Heel links staan Lappies Labuschagne (president).
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'