GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Hartenbos-rolbalklub het vir die tweede agtereenvolgende jaar die 'perdewedren' op die Groot-Brak-rolbalbane gewen deur met die louere in die gewilde jaarlikse 'Colts en Fillies'-toernooi weg te stap.
Die span wat deur Bennie en Rida van Rensburg en Johan en Laura Wagner verteenwoordig is, het van meet af aan getoon dat hulle 'n harde neut gaan wees om te kraak.
Die naaswenners van Outeniqua-rolbalklub met Jenny Lehman, Hendrik Barnard, Allan van der Merwe en Bazil Steyn wat ook goeie spel gelewer het, was deurgaans 'n bedreiging vir die Hartenbossers, maar kon net nie 'n deurbraak bewerkstellig nie.
Nog 'n span van Hartenbos wat uit Gerhard Steenkamp, Lieb en Charlotte du Raan en Ansie Olivier verteenwoordig is, het die derde plek ingeneem.
Hierdie toernooi is so gewild omdat dit net gegradeerde 1 en 2 spelers is wat daaraan mag deelneem.
Hulle speel 4 x 10 koppe en in elke rondte kry een van die spanlede 'n beurt om in 'n ander posisie te speel sodat al 4 lede van die span in al die posisies deelgeneem het.
Nico Dippenaar van Groot-Brak Total was weer die hoofborg wat 'n groot rol in die sukses van die toernooi gespeel het.
Die span van Outeniqua-rolbalklub was die naaswenners van die toernooi. Van links is Jenny Lehman, Hendrik Barnard, Allan van der Merwe en Bazil Steyn. Agter: Nico Dippenaar, Ronel Dippernaar, Johan Pretorius (klubpresident).
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'