TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Wanneer Gielie Wessels se naam in jukskei-verband genoem word, duik aangename herinneringe in die geheue op.
Nie slegs was hy ‘n toegewyde jukskeispeler nie, maar het veral ook sy kosbare tyd aan die administrasie gewy.
Hy was sekretaris van sy jukskeiklub op Riversdal, sy tuisdorp, maar het ook in dieselfde hoedanigheid die destydse Suid-Westelike Distrikte jukskei-unie (vandag Eden -juskeidistrik) verskeie jare gedien.
Jaarliks word ‘n dag op die jukskeikalender ter herdenking aan Gielie Wessels ingeruim.
Verlede Saterdag is die Gielie Wesselsdag gehou. Die toernooi is op die tripsbasis, drie spelers per span, beslis. Op dié wyse kan meer spanne teen mekaar kompeteer.
Die belangstelling was so groot dat drie A-spanne, drie B-spanne en ses C-spanne in die onderskeie afdelings ingeskryf het.
Ten einde loslooitjies uit te skakel het die A- en B-spanne teen mekaar gespeel en het alle punte behaal, ten gunste van die onderskeie spanne getel.
Die wedywering was straf, maar verrassings was daar wel. In die A-afdeling was die punteverskil sigbaar klein. So, byvoorbeeld het Hartenbos se B-span daarin geslaag om die sterk saamgestelde span van die Worcester A (8-7) te wen.
Daarteenoor het dieselfde Worcester A-span sy opponent, Hartenbos A2, met 10½ - 4½ die loef afgesteek.
Eweneens het Hartenbos B sy eweknie Hartenbos B1 met 9½ - 5½ getroef. Dit het gevolglik ‘n klein punteverskil in die A-afdeling verseker (sien puntestand). Verbroude kanse in die A-afdeling veral, het daartoe gelei dat moontlike en redelik maklike skofte nie aangeteken kon word nie.
In die C-afdeling was die puntestand onder die eerste vier spanne eweneens gering.
Hartenbos C-span, bestaande uit Elias Burger, Malie Pienaar en Louis Minnaar met aflos Nico Venter, het die afdeling gerieflik gewen. Die C-span se prestasie is hoofsaaklik te danke aan die uitstekende spel gelewer deur Nico Venter, die instaan speler.
In die A-afdeling was die wenners Hartenbos se A-span, bestaande uit Buks Scholtz, Dolf Barnard en Bossie Boshoff met 4½ beter as die Hartenbos A2-span wat bestaan het uit Anette Esterhuize, Elna van den Berg en Sydney Stopforth. Die B-afdeling is gewen deur Riversdal B1 bestaande uit Jan van Dyk, Johan van Dyk en Henry Gerber.
Môre, Saterdag, 18 September word die ligabepalings voortgesit en wel op Hartenbos. Hartenbosspelers moet kennis neem dat daar gespeel word in klubkleure en jukskeie en penne geverf moet wees in klubkleure.
Uitslae (Punte in hakies):
A-afdeling:
Hartenbos A1 (56½); Hartenbos A2 (52); Worcester A (43½).
B-afdeling:
Riversdal B1 (29); Riversdal B2 (21½); Hartenbos (20½).
C-afdeling:
Hartenbos (55); Riversdal C2 (44); Mosselbaai (43); Stilbaai C1 (39½); Stilbaai C2 (25); Riversdal C1 (18½).
Wenners van die C-afdeling: Louis Minnaar, Malie Pienaar en Elias Burger. Afwesig: Nico Venter, aflosspeler.
Anette Esterhuize, Elna van den Berg en Sydney Stopforth geniet 'n rustige uurtjie oor middagete na uitputtende geswoeg op die jukskeibaan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'