MOSSELBAAI NUUS - 'n Ope jukskeidag is verlede Saterdag deur Riversdal-jukskeiklub aangebied.
Aangesien slegs drie B-spanne ingeskryf het is besluit om die twaalf spelers in 'n tripskompetisie (drie spelers per span) te laat meeding.
Een speler van elke span is afgestaan en het dus 'n vierdie tripspan gevorm.
'n Interessante en meededingende wedywering het plaasgevind. Deur die loop van die wedstryde was dit baie gou duidelik dat geen span die Hartenbos B1-span kon troef nie. Voormelde span het gevolglik korte mette met die ander drie spanne gemaak. Selfs die sterk span van Riversdal.
Hoewel die puntestand in die B-afdeling tydens die spanwedstryde (vier spelers per span) 'n kleiner verskil in die eindpunte getoon het, het Hartenbos B1 weer eens die botoon gevoer (sien puntestand hierna).
In die C-afdeling was dit 'n perd van 'n ander kleur. Albertinia begin al meer hul ware kleure wys, veral onder die leierskap van Henry Gerber, hul kaptein. Hulle het gevolglik bo-aan die punteleer geëindig, 'n goeie 7½ punte bo Hartenbos se C-span (30½ – 22).
Uitslae:
Tripskompetisie: Hartenbos B1 (33); Riversdal (23); Gemengde span (21); Hartenbos B2 (13).
Spankompetisie B-spanne: Hartenbos B1 (17½); Riversdal B (14); Hartenbos B2 (13½).
C-afdeling: Albertinia (30½); Hartenbos (22); Riversdal (20); Stilbaai (17½).
Puik houe, veral lê’s is met tye gegooi wat dan ook die gewenste resultate gelewer het.
Eweneens was daar ook die swakker en minder doeltreffende houe wat teleurstelling veroorsaak het. Tog het jukskei gewen veral wanneer die eindfluitjie blaas en moeë spelers mekaar die hand gee met die uitdruklike groet: “Manne, dit was lekker!”
Saterdag 19 Februarie word die derde interdistrikte kompetisie in Bellville gespeel. Eden skryf drie spanne - A, B en C - in en die gekose spelers is soos volg:
A-span: Buks Scholtz, Dolf Barnard, Bossie Boshoff en Sydney Stopforth.
B-span: Jan van Dyk, Johan van Dyk, Annette Esterhuizen en Henry Gerber.
C-span: Malie Pienaar, Viandrie Fourie, Duimpie van Zyl en 'n speler van die Weskus.
Verblyfreëlings word deur Henry Gerber getref. Kontak hom gerus by 073 703 4311. Eden-jukskeidrag met skeie en penne in Eden-kleure word vereis. Geniet die reis en spel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'