SUID-KAAP NUUS- Safari Outdoor het vir die tweede agtereenvolgende jaar een van die grootste borgskappe tot dusver in Suid-Afrikaanse sportskietgeskiedenis (meer as R300 000 se pryse) vir die jaarlikse Safari Outdoor Challenge geskenk.
Die Eden Jaggeweerskietverening het die eer te beurt geval om hierdie skietdag aan te bied. Dit vind op Saterdag, 29 September op Louvain gasteplaas, 60km buite George, plaas.
Spanne van vier lede kan inskryf vir hierdie geleentheid. Daar sal op ses verskillende bane na 30 staalplate geskiet word. Die afstande oor onbekende bane sal wissel van 150m tot 400m.
"Die bane se uitleg sal so gedoen word om tipiese jag situasies te simuleer. Skuts kan verwag om te skiet oor rotse, boomstompe, driepoot-stokke en kontoerwalle. Die spanlede kan saamwerk met die afstandskatting en onderling bepaal wie die beste uit die moontlike sit-, staan- of lêposisie vir die span sal presteer," verduidelik mede-organiseerder Jacques du Plooy.
Daar is twee klasse naamlik 'n hardebaardklas (vir meer ervare kompetisie skuts) en melkbaardklas (die meer sosiale klas), geskep waarin spanne kan deelneem.
Die dag word afgesluit met 'n prysuitdeling en aansit ete in Louvain se onthaalsaal, alles by die inskrywingsfooi ingesluit.
Inskrywings is reeds van regoor die land, van so ver as Gauteng, Natal en die Vrystaat ontvang.
Inskrywings sluit op Dinsdag, 25 September.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'