Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Deolin Crause (15), leerder van die Groot Brak Sekondêre skool, is tans in Sonora, Meksiko, waar hy as deel van die SA o/15-bofbalspan aan die internasionale kampioenskappe deelneem.
Deolin is ook verlede Vrydag, 26 Augustus, tydens die Eden Sportraad se jaarlikse sport-toekennings, op Oudtshoorn, as die wenner aangewys in die Nuweling Sportman van die jaar-kategorie.
Sy ouers, Jacobus en Sara-Lee Pietersen, het die toekenning, namens Deolin, in ontvangs geneem.
Volgens sy ouers, het hy al van laerskooldae op sportgebied uitgeblink. "Ons is baie trots op hom en onthou die keer toe hy as die sportman van die jaar gekroon is en toe nie weer die trofee wou teruggee nie!
Ons verlang baie na hom, maar is bly dat hy sy droom uitleef". Die wedstryde in Meksiko word bemoeilik deur die hoë humiditeit in die stad.
Volgens die afrigters van die Wes-Kaap Federasie, wat saam met die span in Meksiko is, is dit die Suid-Afrikaners se grootste struikelblok en iets waaraan hulle gewoond moet raak.
Tot dusver was hul wedstryde baie moeilik. Hulle het af en toe 'n "af dag" waartydens hulle die stad se besienswaardighede besoek. "Dit is 'n ondervinding wat die spelers vir die res van hul lewe sal koester."
Deolin Crause (heel regs, voor) dink diep by die Internasionale Bofbal kampioenskappe in Meksiko.
Tydens die nasionale bofbaltoernooi in 2019, is Deolin as die "most valuable player" aangewys.
Volgens Haydon van Rooyen, sy plaaslike afrigter, het Deolin 'n sagte geaardheid, wat 'n baie goeie eienskap vir 'n sportman is. Hy is vir die nasionale SA o/15- span gekies, nadat proewe regoor die land gehou is.
Die span keer op 5 September terug na Suid-Afrika.
Die spelrooster vir die uitklop-rondte dui die verskillende spanne aan wat aan die toernooi deelneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'