MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die vordering met die beoogde ontwikkeling in Mossdustria, oftewel die Motorsportmekka, verloop goed.
Dit blyk na die afgelope maandelikse raadsvergadering aangesien geen besware gespruit het uit die uitgebreide openbare deelnameproses nie.
Dit het ook ingesluit verskeie vergaderings met belanghebbendes in onder meer die stadsaal.
Die voorgestelde ontwikkeling sal die enigste motorsportmekka tussen Kaapstad en Gqeberha (Port Elizabeth) bied, maar ook ruimte skep bedryfontwikkeling op kleiner erwe, wat nie noodwendig betrekking tot motorsport hoef te he nie.
Daar is voorgestel dat die ontwikkeling in fases geïmplementeer word en dat die fases na gelang die behoefte aan spesifieke grondgebruike en grondgroottes binne die verskillende fases sal voldoen.
Die fasering kan dus verander om in die eiendomsbehoeftes op enige spesifieke punt in die groter ontwikkeling te voorsien. Dit sal egter altyd onderhewig wees daaraan dat die projek voorsiening maak vir 'n plaaslike motorsportfasiliteit. Wat ook in ag geneem sal word is dat die inkomste wat verkry word uit die verkoop van die erwe, omsoom word en in 'n kapitaalvervangingsreserwe, oftewel Capital Replacement Reserve Fund (CRR) genaamd die Mossdustria Capital Replacement Fund gehou word.
Verder, sal die fases slegs kan wysig as dit steeds 'n lewensvatbare finansiële model vir die ontwikkeling tot gevolg het.
Die ongeveer 90 hektaar sal bestaan uit verskillende gebruiksareas soos die nywerheidsones, toekomstige beskikbare nywerheidsontwikkeling, 'n bewaringsgebied, 'n motorsportarena, 'n oop plofsone, 'n toekomstige verdere ontwikkelingsgeleentheid vir motorsport, teeroppervlaktes en gruis-oppervlakke. Die beoogde motorsportarea sal na verwagting voorsiening maak vir dragracing, karting, ovaalbaanrenne, dryf-, draai- en gymkhana-byeenkomste.
Gedurende die eerste fase sal die erwe in die nywerheidsone opgemeet, onderverdeel word en teen munisipale koste van sommige dienste voorsien word. Hierdie erwe sal per openbare tender verkoop soos in die relevante regulasies voorgeskryf word.
Daarna sal die oorblywende erwe op 'n eerste-aanbodbasis verkoop word. Die inkomste uit die verkoop van hierdie erwe word toegewys aan 'n aparte kapitaalvervangingsreserwe (CRR), wat uitsluitlik gebruik sal word vir die verdere ontwikkeling van die Motorsportmekka.
Die erwe in die nywerheidsone word op koste van die munisipaliteit opgemeet en onderverdeel, met munisipale dienste wat gelewer word.
Na beraming sal die verkoop en ontwikkeling van hierdie erwe 'n beduidende ekonomiese inspuiting in die Mosselbaai-gemeenskap wees.
Dit blyk asof daar nog veel meer opwinding in die kaarte is. Foto's: Julian Scholtz
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'