MOSSELBAAI SPORTNUUS - Suid-Afrika se ligtegerei-boothengel Protea-span het 'n goue medalje verower in die spankompetisie van die Light Tackle Boat Angling Wêreldkampioenskappe wat verlede week in Mosselbaai gehou is.
'n Span van Gibraltar asook een van Luxemburg het ook aan die kampioenskap deelgeneem. Die tweede plek in die spankompetsie is deur Gibraltar gewen met Luxemburg in die derde plek.
Twee van die Protea-spanlede, Mike Babich en Dean Meintjies spog dan ook as algehele wenners van die kampioenskap met nog twee van hul spanmaats, Francois Blom en Darren Wright, in die algehele derde plek.
Die tweede plek is deur Charles Carreras en Joseph Charles Lara van Gibraltar verower.
Die spanne het reeds die 11de Maart op Mosselbaai aangekom met oefendae wat vooraf plaasgevind het en die eerste amptelike hengeldag op Dinsdag, 14 Maart.
Sestien hengelaars op agt bote, elk met 'n skipper aanboord, het daagliks van Mosselbaai Skippers (ou seiljagklub) vertrek om in Mosselbaaise-waters met 4kg breekkrag vislyn en ligte stokke te hengel.
Visse is met 'n net en nie met 'n vishaak uit die water gehaal waarna 'n gewig, volgens die vis se mate, aan dit toegeken word en dit dan terug in die water geplaas word (catch and release).
Dié kampioenskappe word een jaar in die binneland in damme en riviere aangebied en die volgende jaar in die see.
Goeie begin
Die Protea-span het tydens die eerste amptelike hengeldag op Dinsdag, 14 Maart baie goed gevaar.
Babich en Meintjies op die boot Souserig het 'n totaal van 49 visse gevang wat aan hulle 317 360 punte besorg het. Tweede was nog twee Suid-Afrikaners Ockie Theunissen en Clint Spamers, wat ook die grootste vis van 14,42kg ingeweeg het.
Francois Blom en Darren Wright het ook die Protea-span se naam hooggehou deur die derde plek in te neem.
Die Gibraltar-span het die vierde, sewende en agste plekke ingeneem terwyl die span van Luxemburg vyfde en sesde was.
Die tweede hengeldag, Woensdag 15 Maart, is gekenmerk deur ligte reën oor die hele streek maar die hengelaars is nie deur die weer afgeskrik nie.
Charles Carreras en Joseph Charles Lara van Gibraltar het die eerste plek behaal met 24 visse op die boot Tanneman. Babich en Meintjies was tweede met Blom en Wright derde.
Al hierdie goeie vangste deur die Protea-hengelaars het daartoe bygedra dat Suid-Afrika die Vrydagaand, 17 Maart tydens die prysuitdelingsfunksie as die algehele beste span gekroon is.
Francois Blom spog met hierdie mooi mosselkraker ook genoem poenskop.
Ockie Theunissen het hierdie gladde hamerkophaai gevang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’