MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se veldskietkompetisie wat Saterdag, 12 Maart op die plaas Nooitgedag in die Oudtshoorn-distrik plaasgevind het, is een wat nie ligtelik vergeet sal word nie.
Nadat die bane op Vrydag voorberei was, het ‘n hewige donderstorm wat met sterk wind gepaard gegaan het, van die bane nutteloos gemaak.
Daar moes inderhaas nuwe teikens op Oudtshoorn bekom word, maar hoewel van die voertuie vasgeval het, kon die skuts darem die skietpunte per voet bereik.
Met baie innoverede skietposisies moes die deelnemers drie ghongbane en drie papierteikenbane oor wisselende afstande aandurf.
Die veldskietkompetisies vind al meer byval by die vroue- en junior skuts. Saterdag sal verder onthou word vir die deelname van ‘n penkop, die negejarige Darian du Plooy.
Uit ‘n total van 62 skuts het Darian die 19de plek behaal. Vir diegene wat onder die indruk was dat hy eintlik nog net groot genoeg was om met ‘n windbuks te skiet, het daar inderdaad ‘n groot verrassing gewag.
Ook interessant is dat die wenner van die junior afdeling (Amorette Smit) algeheel 2de was en die wenner van die vroue-afdeling (Ronel Marx) algeheel 3de.
Die skietdag is geborg deur RAiN geoktrooieerde-rekenmeesters en hulle waterpunt was ‘n wenner en die lafenis van yskoue water op ‘n snikhete dag het groot byval gevind. Die pryse aan die wenners en die groot aantal gelukstrekkings het ook gesorg dat daar ‘n bietjie van die hitte vergeet word.
Die volgende skietdag op die SJB-kalender is die SSK Veldskiet wat op 9 April naby Heidelberg sal plaasvind.
Wenners van die vroue-afdeling, van links: Janine Nigrini, Zoey Botha, Ronel Marx en Mareli Swart (borg).
Die wenners van die dag was as volg:
Ope afdeling
1. Hein de Swardt; 2. Christo Delport; 3. Raynor Becker
Juniors
1. Amorette Smit; 2. Marco Marx; 3. Erik Zeelie
Vroue
1. Ronel Marx; 2. Zoey Botha; 3. Janine Nigrini
Veterane
1. Johan Fourie; 2. Hennie Bester; 3. Piet van Wyk
Penkoppe
1. Darian du Plooy.
Die negejarige Darian du Plooy.
Wenners van die veterane-afdeling, van links: Hennie Bester, Johan Fourie, Mareli Swart (borg) en Piet van Wyk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'