TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Eden-toutrekfederasie het die jaar se kompeterende toutrek op 'n hoogtepunt afgesluit toe hulle die 2020 SA-klubkampioenskap met groot sukses by die Hartenbos-amfiteater aangebied het.
Onder leiding van Barries Barnard, president van Eden-, sowel as Westelike Provinsie-toutrekfederasie het, behalwe vir Hartenbos se spanne, deelnemers van sover as Postmasburg, Kimberley Pirates, Jacobsdal, Breërivier en Helderberg op Saterdag, 24 Oktober aan die kampioenskap deelgeneem.
Altesaam 58 spanne het kompeteer.
Hartenbos-toutrekklub bestaan uit senior trekkers van die gebied en Oakdale-, Van Kervel- en Wittedrift-leerders wat ook saam trek. Hulle het die beste presteer en het weggestap as wenners in die 640 mans-, 680 mans-, 720 mans- en 580 gemengde afdelings.
Fotogalery: Toutrekkers trap stewig vas
Hartenbos is as klubkampioene gekroon, terwyl Kimberley Pirates die Presidentsbeker verower het.
Helderberg het die 560-mans-, 500-vroue- en 540-vrouetrofeë losgetrek.
Barnard sê as gevolg van die inperking was daar verskeie van die tradisionele groot klubs soos Goudini, Valsbaai, Swellendam en Pretoria wat nie hul weg oopgesien het om deel te neem nie.
"Dit het egter glad nie 'n demper op die kwaliteit, ywer en opgewondenheid wat geheers het geplaas nie. Die gehalte van die toutrek het almal verbaas," het hy gesê.
Barnard verduidelik dat die toepassing van Covid-19-regulasies uitdagend was. "Die Covid-19-moniteringsbeamptes, mediese personeel, skeidsregters, atlete, sowel as ondersteuningspanne het baie goed saamgewerk en by die reëls gebly," het hy verseker.
Die Wes-Kaap se minister van sport en kultuursake, Anroux Marais het die byeenkoms bygewoon en medaljes oorhandig.
Barnard sê die minister, asook Eden-toutrekfederasie, Van Kervel Skool, SA toutrekfederasie, Die Wes-Kaap regering, Eden-sportraad en die ATKV (Hartenbos-Oord) het die byeenkoms moontlik gemaak.
Hoër Landbouskool Oakdale-leerders van Riversdal in aksie.
Die Hartenbos vroue A-span (500kg) het ‘n silwer medalje gewen.
Atlete in aksie.
Pure konsentrasie. Foto’s: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'