Gallery Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die derde Garden Route 4x4 Expo and Outdoor Show het die afgelope naweek op Bartelsfontein plaasgevind, ten spyte van weerwaarskuwings wat mense se hare behoorlik laat rys het.
'n Stomsterkwind het Vrydag, 26 November gewaai en donderstorms was ook aan die orde van die dag. Teen Saterdag het weer opgeklaar, maar die weersomstandighede het wisselvallig gebly.
Die geleentheid, wat op 28 November ten einde geloop het, het vanjaar 'n hele paar nuwe verrassings ingehou.
Ferdinand Rabie van Legend Events het die organiseerders, Petra en Kallie Sachse geloof vir hulle deursettingsvermoë om te midde 'n swak ekonomiese klimaat, tog die ekspo aan te bied. Rabie het vanjaar vir die eerste keer die gewilde Legend Runner, wat spog met die grootste opblaashindernisbaan in Afrika, na die Tuinroete gebring. Vanweë stromsterkwind en reën, kon die Legend Runner slegs die Sondag aangebied word.
Rabie berig na afloop van die ekspo dat hoewel die weer wat die Legend Runner betref 'n uitdaging was, die Funduro vir veldmotorfietse besonder goed ondersteun is.
Jongelinge op die hindernisbaan.Foto: Ethan-John Carstens
"Legend Events gaan oor friends and family together. Met ons Funduro het veral die klein motorfietsryertjies met hulle peewees kon deelneem en dit gebeur nie sommer nie. Ons het geen beserings tydens die resies gehad nie."
Rabie het bevestig dat hy later in Desember, oor die feestyd weer 'n Legend Runner in Mosselbaai en omstreke kom aanbied. *
Video: 'n Terugblik op die 2021 Garden Route 4x4 Expo and Outdoor Show
Nuwe datum
Raadsheer Cliffie Bayman, uitvoerende onderburgemeester van Mosselbaai, het tydens sy openingsrede uitgestip dat Mosselbaai-munisipaliteit die ekspo heelhartig ondersteun. Dit vorm ook deel van die munisipaliteit se planne om die gedeelte naby Mossdustria in 'n motorsportbestemming te ontwikkel.
"Ek is baie beïndruk met wat ek hier gesien het. 'n Mens kan net trots wees op wat Kallie en Petra Sachse hier tot stand gebring het."
Nuut by vanjaar se geleentheid was die Home Expo, met die fokus op allerlei tuisopknappings.
'n Effense teleurstelling tydens die geleentheid was die kansellasie van die Africa Strongman- en Cross Fit-kompetisie. Organiseerders het vanweë die gure weer op die laaste nippertjie kop uitgetrek ten spyte van talle voobereidings wat op die perseel vir die kompetisies aangebring is.
Tydens die afsluiting van die ekspo op Sondag, het Petra Sachse bevestig dat 100 uit die 101 uitstallers bevestig dat hulle graag die geleentheid na April sou wou skuif.
"Indien dit nie met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees bots nie, sal ons die ekspo in 2022 in die April-skoolvakansie aanbied. Andersins, hou ons dit in die laaste naweek in Maart."
Rabie het bevestig dat aanlynbesprekings vir die Legend Runner teen volgende week oop sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'