TUINROETE DISTRIK JUKSKEINUUS - Die eerste helfte van die jukskeiseisoen in Eden-jukskeidistrik spoed vinnig ten einde.
Op 11 Desember word die laaste ligawedstryde op Hartenbosbane gespeel.
Verlede Saterdag egter het die volgende klubs tydens 'n opedag byeenkoms op Riversdal sake uitgespook: Mosselbaai, Riversdal en Hartenbos.
Die wedywering het afgeskop om 08:00 die oggend nadat daar op die gebruiklike wyse met gebed geopen is. Jukseispelers is afhanklik van die leiding van die Opperwese netsoos alle gelowige lewende wesens.
Die dag het ontplooi in windstilte en pragtige sonskyn. Jukskeispelers presteer op hul beste wanneer weersomstandighede gunstig is. Die spel jukskei is 'n presisie spel want jukskeie word oor afstande van 11 tot 16 meter gegooi. Enige steurnis soos wind en reën se invloed op jukskeie is baie nadelig en beïnvloed resultate aansienlik.
Die program het voorsiening gemaak vir parespel (twee spelers per span) gedurende die oggendsessie, terwyl die namiddag spanspel (vier spelers per span) die dag sou voltooi.
Daar is by tye briljante houe gegooi, veral wanneer wegpenne en lê's vereis is. Gedurende sulke situasies is spelers deur spanmaats en opponente met oorgawe gelukgewens.
In die B-afdeling het die span van Elna van den Berg en Chris Viljoen die eerste plek verower, met Bossie Boshoff en Dolf Barnard gesamentlik tweede met Jan van Dyk en Jackie Hanekom. In die spanspel was Hartenbos B2 eerste met Hartenbos B1 tweede en Riversdal B derde.
In die C-afdeling waar ses spanne meegeding het, was die wedywering straf en die punteverskil tussen spanne klein. Hartenbos C1 het eerste geëindig met 47 punte en Hartenbos C2 in die tweede plek met 40½ punte. Mosselbaai C1 was derde met 38½ punte.
B-afdeling (parespel):
Hartenbos B3 (46½); Hartenbos B1 (42½); Riversdal B1 (42½); Hartenbos B2 (40½); Hartenbos B4 (33); Riversdal B2 (20).
B-afdeling (spanspel):
Hartenbos B2 (23½); Hartenbos B1 (14½); Riversdal (7).
C-afdeling (parespel):
Hartenbos C1 (47); Hartenbos C2 (40½); Mosselbaai C1 (38½); Mosselbaai C2 (33½); Riversdal C2 (33½); Riversdal C1 (32).
C-afdeling (spanspel):
Riversdal (16); Mosselbaai (15); Hartenbos (14).
Môre, 27 November word die tweede interdistrikte toernooi op Wellington gespeel.
Die Westelike Provinsie, Kaapse Wynlande (vroeër Boland), Overberg en Eden sal mekaar die stryd aansê. Die opening geskied om 08:00 en aanvang van wedstryde om 08:30. Skeie en penne van Eden spelers word in Eden-kleure geverf terwyl die kleredrag ook Eden-kleure sal verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'