Atlete het van so ver as Kaapstad gekom om deel te neem in een van die mees skouspelagtige kompetisies in die Groot Karoo.
Wynmaker en plaaseienaar Diederik le Grange het aanvanklik beplan om 'n berg-fietswedren te akkommodeer, maar binne die eerste drie km besef dat daar heeltemal te veel op- en afdraandes sou wees, wat fietsry haas onmoontlik sou maak. Die roete is aangepas en die eindresultaat is 'n 15 km berghardlooppad waarvan 87% 'n enkelbreedte voetpad is.
"Ons het die toepaslike bemarkingskanale gebruik om die byeenkoms te adverteer, maar aangesien dit die eerste keer is wat ons dit aanbied, is daar 'n betreklike lae aantal deelnemers gelok," sê le Grange. "Die einddresultaat kan ons egter glad nie oor kla nie – daar was geen ernstige beserings en niemand het van die roete afgedwaal nie."
Le Grange se Jack Russel, Klapper, het homself ook as atleet bewys en beurtelings saam met die voorste mansatlete gehardloop en die roete saam met die voorste vroue-atleet voltooi.
"Ons beplan om die byeenkoms 'n jaarlikse instelling te maak," sê le Grange. "Ons is ook bevoorreg om iemand soos Chantal Nienaber hier te hê." Nienaber neem volgende maand deel aan die Wêreld Berghardloop Kam-
pioenskap in Wallis.

Van links is Charl Pieterse, Basil Stevens en Andrew van der Westhuizen, die eerste drie mans.