Update
TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Met Covid-19 wat sy kloue diep in Eden-sportraad se byeenkomste geslaan het, groei die struikelblokke rondom die beplanning en uitvoering van sportbyeenkomste binne die streek by die dag.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die sportraad het Maandag, 7 September gesê dis veral kleiner sportkodes wat erg onder die gevolge van die pandemie gebuk gaan.
"Ek is bekommerd oor al die skole, klubs en atlete, maar dit is veral die toekomsplanne en deelname van atlete van die buitewyke van Eden-sportraad se bedieningsgebied wat my laat wakker lê," het Van der Walt aan Suid-Kaap Forum gesê.
Hy het dit duidelik gemaak dat hy nie skole, klubs of individue binne die Hessequa-gebied van Eden-sportraad wil uitsonder nie, maar hy het Hoër Landbouskool Oakdale se prestasies en potensiaal as voorbeeld voorgehou.
Rooi ligte flikker al helderder, selfs op vlak 2 van die grendeltyd. Hy baseer sy stellings op 'n direktiewe mediavrystelling van die nasionale departement van sport, kuns en kultuur soos reeds op 20 Junie uitgereik en gebruik tweekamp as voorbeeld. "Dit sal sekerlik ook geld vir swem, tennis, driekamp, vyfkamp, atletiek, ensovoorts," het hy gesê.
Uit die dokument, waar die regulasies nog van toepassing is, haal hy voorbeelde aan waar voor enige oefening/wedstryd/toernooi/byeenkoms kan plaasvind, sportliggame die nasionale minister in kennis moet stel van wanneer dit 'n aanvang gaan neem, vergesel van die protokol in die direktief.
Ander regulasies sluit in die skoonmaak en disinfeksie van die sport venues. "In die geval van tweekamp behels dit die atletiekbaan en swembad. En dit voor elke oefening of byeenkoms," sê van der Walt.
Hy het skokkende syfers van die onkostes voorgelê om slegs een tweekamp-byeenkoms aan te bied. Die enigste kunsbaan en bruikbare Olimpiese standaard swembad is op Oudtshoorn. Alle atlete moet dus daarheen reis - vanaf Plettenbergbaai, Riversdal, Knysna, George, Mosselbaai, ens; sommige dus maklik 360 km per byeenkoms. Hy skat die kostes as volg (werk met 200 atlete): Huur van munisipale fasiliteite - atletiekbaan en swembad R1 800; huur van mediese personeel, noodhulp en ambulans R3 000; toets van atlete teen R250/atleet - R50 000 en laboratoriumkoste van toetse teen R800/atleet.
Die kostes sluit uit die skoonmaak van venues, aanskaf/huur van toetsapparate, vervoer, saniteerdes, maskers, verversings en die daarstel van isolasielokaal.
"Dit skets 'n donker prentjie, maar die realiteit spreek vanself," aldus Van der Walt.
Vorige artikel: Rooi ligte flikker vir sport
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'