MOSSELBAAI NUUS - Die SAPD-rolbalspelers van die Eden-streek het die laaste been van die driehoekige SAPD-rolbalkompetisie tussen die Westelike Provinsie, Boland en Eden op 9-10 Augustus op die bane van die Mosselbaai-rolbalklub aangebied.
Die vorige twee toernooie het onderskeidelik gedurende April in Kaapstad en Junie in Saldanha plaasgevind.
Tydens die laaste been op Mosselbaai het Eden SAPD die A-, asook die B-afdeling onoorwonne afgesluit en ook die trofee in die spanafdeling verower. Met die resultate van al drie gesamentlik, het Eden SAPD A die trofee ingepalm en het hulle geseëvier in al ses wedstryde 'n gemiddeld van +45.
Daar is tydens die afsluitingsonthaal erkenning gegee aan lt kol Albert Haggard wat sy laaste SAPD driehoekige wedstryd as polisiebeampte gespeel het.
Hy tree op 1 Desember 2018 af na 42 jaar diens. Hy het die SAPD-lede aangemoedig om met rolbal vol te hou deur te sê: "Vat hom, vat hom."
SAPD Eden B het algeheel tweede gekom, slegs 'n punt agter die Westelike Provinsie. Die SAPD Eden-verteenwoordiger, Zakes Salemane het sy dank uitgespreek teenoor die president van die Mosselbaai-rolbalklub, Owen Calverley vir die beskikbaarstelling van die geriewe, uitstekende diens en gasvryheid.
Die Eden A-span kapt Wollie Fourie, lt kol Albert Haggard en sers Zakes Salemane as algehele wenners en onoorwonne vir 2018 saam met SAPD-rolbal se vise-president, adjudant-offisier Gary Drake (links) en die president van die Mosselbaai-rolbalklub, Owen Calverley.
Eden SAPD algehele wenners, asook trofeewenners vir 2018.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'