Gallery
MOSSELBAAI NUUS - In snikhete weer op Riversdal het die A1-span van Eden-jukskeidistrik verlede Saterdag uitstekende jukskei gespeel.
Hulle het deurgaans die toon aangegee en gevolglik heel bo aan die punteleer van die A-afdeling geëindig.
Hul naaste teenstander, te wete, WP A1 het 11 punte agter hulle in die tweede plek geëindig.
Die vier distrikte naamlik Eden, Kaapse Wynland, Overberg en Westelike Provinsie was goed verteenwoordig.
Daar is in vier afdelings meegeding, met inskrywings deur al die distrikte in die A-, B-, C- en D-kompetisies.
In die B-afdeling het Kaapse Wynland B2 met 56½ punte eerste geëindig met Kaapse Wynland B1 in die tweede plek met 50 punte.
In die C-afdeling was die wedywering ewe straf. Eden C1 eindig eerste met 88 punte, WP C met 83½ punte in die tweede plek en Overberg C derde met 75 punte.
In die D-afdeling was die kompetisie selfs strawwer met 'n klein punteverskil tussen die eerste drie spanne. WP D was eerste met 69 punte; Overberg D2 met 64 punte tweede en Overberg D1 derde met 57½ punte.
In die geheel gesien was dit 'n uitstaande jukskeidag en is uitmuntende goeie jukskeihoue opgedis.
In die A-afdeling het agt spanne mekaar die stryd aangesê. In die B-afdeling het sewe spanne kragte gemeet en in die C-afdeling het ses spanne.
Die D-afdeling met vier spanne het die wa deur die drif probeer trek. In totaal was die verteenwoordigende spelers dus 100 wat meegeding het.
As in gedagte gehou word dat slegs vier spelers 'n span vorm, was daar 25 spanne in aksie.
Op sigself is dit 'n uitstaande prestasie in hierdie sportsoort.
Na afloop van die uiters geslaagde toernooi is die eerste drie spanne in elke afdeling met goud, silwer en brons medaljes beloon. Die harde uitputtende spel in drukkende hitte was dus die moeite en opoffering waardig.
Die finale uitslae is soos volg (punte in hakies):
A-afdeling: Eden A1 (72); WP A1 (61); Overberg A (59); Kaap Wynland A1 (55½); Eden A2 (45½) KW A3 (45); WP A2 (43½); KW A2 (38½).
B-afdeling: (KW – Kaap Wynland); KW B2 (56½); KW B1 (50); Eden B1 (45½); WP B (45½); Eden B2 (43½); Overberg B (42); KW B3 (26½).
C-afdeling: Eden C1 (88); WP C (83½); Overberg C (75); Eden C2 (70); KW C1 (61½); KW C2 (59½).
D-afdeling: WP D (69); Overberg D2 (64); Overberg D1 (57½); Eden D (53).
Op 11 November vind die Gielie Wessels-tripstoernooi op Riversdal plaas.
Dit beloof 'n strawwe wedywering te wees aangesien slegs drie spelers per span meeding.
Die opening is om 08:00.
FOTO'S: GREY STOPFORTH
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'