SUID-KAAP SPORT NUUS - Eden-jukskei se verteenwoordigende klubs het op Stilbaai aan huis van Barry van Schalkwyk vergader om hul nuwe bestuur te kies.
Uiteraard het vele sake betreffende die speelprogram, waaronder ope dae, Mosselbaai Sportrofee, liga- en interdistrikte kompetisies onder die loep gekom.
Die vergadering het ordelik verloop onder leiding van 'n goed voorbereide voorsitter Hendry Gerber.
Seker een van die belangrikste besluite is die nuwe konsep ten opsige van 'n winterprogram wat aanvaar is. Die doel daarmee is om gesoute ervare spelers veral skerp te hou wat betref hul voorbereiding met die oog op die meestertoernooi wat gedurende Oktober in Kroonstad aangebied word.
Die volgende bestuurlede is in die onderskeie poste verkies:
Voorsitter: Hendry Gerber
Ondervoorsitter: Barry van Schalkwyk
Sektretaris: Anamarie van Staden
Programmeerder: Johnny Coetzee. Sy opdrag is om die speelprogram vir die voor- en naseisoen te finaliseer.
Barend (Bossie) Boshoff en Sydney Stopforth is verkies om aandag te gee aan:
- Opleiding van skeidsregters.
- Hulp en leiding aan onlangs gekwalifiseerde skeidsregters.
- Afrigting van toetredende persone tot die sport, maar ook aan beginners wat basiesetekortkomende openbaar.
Daar sal ook sterk gefokus word op die sosiale klubs, waarvan daar ses in Eden Distrik bestaan. Die oogmerk sal wees om sosiale spelers wat 'n besondere aandag vir die spel toon te betrek en hulle te help om 'n hoër spelpeil te bekom. Uiteraard is volgehoue toegewyde oefening die wagwoord om sukses te verseker.
Vir meer inligting van die spel kan Hendry Gerber (073 703 4311), Bossie Boshoff (076 317 9017) of Sydney Stopforth (082 371 3637) gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'