MOSSELBAAI NUUS - Eden se mans, vroue en junior jaggeweerspanne het einde Oktober aan die finaal van die Wes-Kaap interdistrik-jaggeweerkampioenskap op Yzerfontein in die Weskus deelgeneem en die reeks onoorwonne afgesluit.
Die Oktoberkompetisie is oor drie bene beslis tussen die spanne van Eden, Westelike Provinsie en Boland.
Die spanne van Eden het hierdie laaste rondte oortuigend gewen en sluit dus die reeks onoorwonne af.
Die investering in opleiding deur Edenjaggeweerskiet in hul juniors en vroue, in samewerking met Eden-sportraad, wys duidelik in hierdie puik resultate.
Hierdie reeks dien as sterk motivering en skep 'n goeie geleentheid vir skuts om amptelike erkenning te kry en word harde werk en goeie voorbereiding beloon met provinsiale kleure.
Aangesien daar slegs vyf posisies per span is, skep dit die geleentheid vir ander skuts om te groei in hul strewe om ook hierdie gesogte spanne te haal en Suid-Afrikaanse Jaggeweerskiet tot verdere hoogtes te laat groei.
Eden-jaggeweerskiet wens al hul skuts geluk met 'n baie suksesvolle 2017 seisoen.
Eden se manspan is die wenners van die interdistrik-uitdaagreeks. Van links is: Renier van Greunen, Valie Enslin, Jaco Brink, Christo Delport, Jacques du Plooy en Conrad de Does (WP voorsitter).
Nie minder as nege Eden-jaggeweerskuts (sewe mans, een vrou en een junior) het die top 50 nasionale ranglys gehaal en word hulle alle voorspoed toegewens vir die 2018 SA kampioenskap in Mpumalanga.
Eden se juniorspan is die wenners van die interdistrik-uitdaagreeks. Van links is: Hans-Willem Moolman, Anlo Ferreira, Leras van Zyl, Manus Moolman, Emile Goedhals en Wim Joubert (Boland voorsitter).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'