Gallery
TUINROETE | KAROO SPORTNUUS - Eden Jaggeweerskiet het van 6 tot 8 Oktober 'n suksesvolle internasionale skiettoernooi aangebied toe hulle gasheer vir die Namibiese Arende asook die skuts van die SA Protea- en SA Presidentspanne was.
Dit is een van die grootste toernooie op die jaarlikse Jaggeweerskiet-kalender en het op die plaas Louvain aan die voet van die Outeniquaberg plaasgevind.
FOTOGALERY: Eden Jaggeweerskiet bied 'n suksesvolle internasionale skiettoernooi aan
Ses spanne, drie van elke land, het oor drie dae kragte teen mekaar gemeet.
Die spanne het bestaan uit die SA Protea Ope-span wat teen die Namibiese Arende meegeding het, die Presidentspanne van beide lande asook die 223-spanne van beide lande. Daar was ook drie uitnodigingspanne waarvan die South African Small Rifle Field Shooting Association deel uitgemaak het, wat ook teen mekaar meegeding het. Die SA sowel as Eden se spanne het hul goed van hul taak gekwyt en met die louere weggestap.
Donderdag
Die eerste skote het die Donderdagoggend geklap toe die skuts van die Proteas en die Arende asook die twee presidentspanne kragte gemeet het.
Daar is op ses bane gekompeteer. Baan 1 het bestaan uit ghongbaan met die verste ghong op ongeveer 350m en die naaste op ongeveer 200m.
Op Baan 2 moes skuts van 'n tweepoot-staanstok oor ongeveer 120m na 'n jakkalsteiken aanlê terwyl daar op Baan 3 vanuit 'n vryhand lê-posisie oor ongeveer 200m na 'n bobbejaanteiken geskiet moes word. Op Baan 4 is daar vanaf driepoot-sitstokke na 'n vlakvarkteiken geskiet en op baan 5 moes die driepoot-staanstokke gebruik word om na 'n blesbokteiken (130m) te skiet. Die finale baan, Baan 6 het gesorg vir die uitdaging van die dag. Dit was platform wat aan kettings gehang het en waarvandaan die skuts na vyf ghonge moes skiet. Die afstande het gewissel tussen 200m en 350m. Soos verwag het die onderskeie spanne hulle baie goed van hul taak gekwyt.
Vrydag
Die tweede dag van die toernooi, kan sekerlik as die moeilikste van die hele toernooi beskryf word. Nie net was die bane uiters uitdagend nie maar die weersomstandighede het die beste van die beste skuts se skietvernuf deeglik getoets. Die 222/223-toernooi was sekerlik die grootste van sy soort wat nog plaasgevind het met rekord getal skuts wat deelgeneem het. Die toernooi was nie net die toets nie maar dit was ook deel van Eden en Oos-Kaap se 223-Ope kompetisies.
Daar is in die oggend sowel as in die middag op ses bane met talle uitdagings gekompeteer. 'n Stormsterk wind het gewaai wat ook die skuts se skietvermoë tot die uiterste beproef het.
Saterdag
Saterdag se Eden Ope wat ook as die tweede been van die Ope-spankompetisie tussen die verskeie internasionale spanne gedien het, is deur 'n rekord aantal skuts bygewoon. Ook hier is daar op ses bane gekompeteer.
Uitslae
- SA Proteaspan klop hul Namibiese teenstanders met 349.1 punte
- SA Presidentspan klop hul Namibiese eweknie met 1 693.1 punte
- SA Protea 223-span klop Namibië se 223-span met 582.1 punte
- SAJSV 1 klop South African Small Rifle Field Shooting Assosiation se span met 1 825.1 punte
In die VGK-reeks tussen Westelike Provinsie, Boland en Eden, spog Eden met al vier eerste plekke. Eden se junior-, vroue-, veterane- en ope-span verwerf almal goud.
Lede van die SA Jaggeweer Proteaspan en die Namibiese Arende. Agter is die Proteas van links: Stian van Wyk, Christo Delport, Niaan Fourie, Hein de Swardt, Carel Maritz en Fred Danzfuss. Voor is die Arende van links: Francois Marais snr, Strydom van der Wath, Michael Barlow, Francois Marais jnr, Morné Louw en Luandre Benade.
Lede van die SA Proteaspan is agter van links: Niaan Fourie, Hein de Swardt en Fred Danzfuss. Voor: Stian van Wyk, Carel Maritz en Christo Delport.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'