TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Dit was dalk nie vir almal die strandvakansie waaroor hulle gedroom het om 2020 af te sluit nie, maar dit het skynbaar nie die bittereinders die aftog laat blaas op soek na alternatiewe vermaak nie.
Adrenalienverslaafdes van alle ouderdomme het vanjaar weer op die wêreldbekende Draakduin baljaar ten spyte daarvan dat Suid-Kaapse strande gesluit was vanweë die Covid-19-inperkingsmaatreëls.
Volgens Leon van Rensburg, wat reeds jare lank hier sandplankry-avonture (sandboarding) aanbied, het die sluiting van strande eintlik in sy guns getel.
"Daar was 'n positiewe én negatiewe uitkoms. Sommige het hul vakansie in geheel gekanselleer en ander het nuwe goed gesoek om te doen. Omdat die duine privaat is, het die sluiting van strande ons bedrywighede nie beïnvloed nie."
Van Rensburg sê dat die duin se reputasie hom bowendien vooruitloop en boonop is daar kliënte wat jaar na jaar terugkeer om die "draak te tem".
"Ons fokus was nog altyd om 'n adrenalien-aktiwiteit te bied waaraan die hele gesin kan deelneem. Dit bly immergewild."
Die Draakduin, naby Vleesbaai is op 350m, die hoogste sandduin in Suid-Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'