TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Getye word veroorsaak deur die aantrekkingskrag wat die son, en veral die maan, op die see het.
Gedurende die loop van een dag (24 uur) is dit twee keer hoogwater en twee keer laagwater.
Die tye van hoog- en laagwater is elke dag 30-45 minute later.
Maanfases
Tydens sy omwenteling in 'n ovaalvormige baan om die aarde elke 28 dae, is daar vier fases van die maan waarvan die hengelaar moet kennis dra, naamlik nuwemaan, eerste kwartier, volmaan en laaste kwartier.
Gedurende hierdie omwenteling is dit twee keer springgety, naamlik met nuwemaan en 14 dae later met volmaan. By dié geleenthede word die see baie laag met laagwater en baie hoog met hoogwater.
Nuwemaan word gevolg deur eerste kwartier (dooiegety) en volmaan deur laaste kwartier (dooiegety). Tydens dooiegety, in teenstelling met springgety, is die verskil tussen laag- en hoogwater nie baie groot nie.
Betekenis vir die hengelaar
Vir die hengelaar strek springgety oor altesaam sewe dae: op die dae van volmaan en nuwemaan, asook die drie dae voor en daarna.
Op die eerste van die sewe dae (in hengeltaal "die eerste roering") word die see nog nie so baie laag/hoog nie, maar vanaf die tweede dag wel. Windrigting het ook 'n invloed.
Hier in die Suid-Kaap is 'n ligte suidwes goed, maar met 'n suidoos word die water die laagste. Winde uit die suide, noorde en noordweste is swak.
Getye moet in aanmerking geneem word wanneer 'n hengeluitstappie beplan word.
Springgety is die tyd wanneer die hengelaar onder andere sy rooiaas, seekat en krappe die maklikste bekom omdat die see ver terugtrek. Met springgety kan jy ook by plekke hengel wat andersins onbereikbaar is.
Getye het ook 'n invloed op die weigewoontes van visse. Die meeste visse byt beter met die inkomende gety. Jou kans om byvoorbeeld 'n galjoen te vang, is beter wanneer die see met die inkomende gety lewendiger en witter word. Met hoogwater vang jy die galjoen dikwels baie naby die kant. Elwe hou van die tyd rondom hoogwater. Die meeste hengelaars op soek na kabeljou verkies die uur voor en na hoogwater. Hierdie is nie vaste reëls nie en vis kan met laagwater, groeiwater, hoogwater of sakwater gevang word. By 'n diepwaterplek speel getye 'n kleiner rol as by vlakwaterplekke.
Onlangse vangste en vooruitsigte
Ek het verneem van mooi galjoene wat onder andere by Blombos uitgekom het. By Victoriabaai het Renier Nortjé 'n pragvis van meer as 4kg gevang. Tussendeur gryp mosselkrakers ook die rooiaas. Met die baie plekke wat mooi oopgespoel is, kan heelwat van die smullekker vettes nog op die kole beland voor die seisoen op 15 Oktober sluit. Dit raak nou ook goeie tyd om vir witsteenbras te probeer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'