MOSSELBAAI NUUS - As jy ooit op soek was na 'n sport wat by die hele gesin byval sal vind, het jy nou die gulde geleentheid.
'n Nuwe boogskietbaan, sowat 5km buite Hartenbos, mag dalk net die ideale nuwe speelplek bied.
Volgens Johan Boshoff van die boogskietklub, St Blaize Archery, raak dié sport al hoe meer gewild.
"Daar is verskillende klasse waarin 'n persoon kan deelneem. Ons fokus op 3D. 'n Driedimensionele-baan bestaan uit 20 3D-teikens wat uitgesit is op 'n baan van sowat 2km lank.
"Elke teiken bied sy eie uitdaging." Die teikens, verduidelik hy, is byvoorbeeld 'n lewensgrootte springbok, vlakvark, gemsbok en dies meer.
Boshoff beoefen boogskiet al 14 jaar lank en bied ook hoë standaard afrigting. Volgens hom groei die klub se getalle goed en is die baan waarop hulle oefen by al die tersaaklike instansies geregistreer. "Dit laat mense wat goed presteer toe om nasionaal of selfs internasionaal te kan kompeteer."
Die klub se doelwit, meen Boshoff, is om gesellige en produktiewe samekomste vir boogskutters te bewerkstelling. "Deur deel te neem aan 3D-skietdae, help dit dié wat jagters is om hulleself goed voor te berei vir etiese skootplasing wanneer hulle die jagveld betree."
Boshoff sê dat 'n saamgestelde (compound), omgekromde (recurve) of selfs 'n tradisionele boog die aangewese toerusting is. "Om deel te neem aan die sport, is dit beter om jou eie toerusting te hê wat spesifiek vir jou opgestel is. Ons het wel altyd iets beskikbaar vir persone wat 'n paar skote wil skiet om dit te probeer."
St Blaize Archery hou môre, 12 asook Sondag, 13 September 'n ope dag en nooi alle belangstellendes om by hulle aan te sluit.
"Die hekke maak 07:30 oop. Die eerste pyle op die baan is om 09:00. Tussen 07:30 en 09:00 warm almal op en stel hulle boë in."
Vir meer inligting, kontak Johan Boshoff (076 274 3382).
Boogskiet is 'n sport wat die hele gesin sal geniet. Hier is lede van St Blaize Archery.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'