MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope naweek, vanaf Saterdag, 17 Februarie, tot Sondag, 18 Februarie, het die George Hengelklub in samewerking met Xtreme Fishing 'n deurnaghengel-kompetisie aangebied.
Daar is twee afdelings waarin meegeding is, naamlik rots- en strandhengel en riviere en mere. Pryse ter waarde van R80 000 was op die spel vir juniors onder 16 jaar, mans, vroue en seniors. Hengelaars kon vanaf Natures Valley tot by Witsand hengel.
'n Totaal van 49 visse is deur die 198 hengelaars geregistreer. Nie minder nie as 11 kabeljoue is geland met vyf kolsterte, een strepie, 14 knorhane, agt leervisse, drie galjoene, een zebra, drie hondhaaie, een pylstert, een vlekhaai en 'n skemerhaai.
Ryan Scheepers het met die eerste én tweede plekke weggestap in die afdeling van rots- en strandhengel met twee pragtige kabeljoue van onderskeidelik 29,33kg en 6,44kg. Derde was MJ Joubert met 'n kabeljou van 5,5kg. By die riviermondings was Dan Tromp eerste met 'n leervis van 3,23kg. In die tweede plek was Christo Botha met 'n kabeljou van 3,12kg, en derde was Peet May met 'n kabeljou van 2,98kg.
Ryan Scheepers se tweede plek kabeljoue van 6,44kg.
MJ Joubert se kabeljou van 5,5kg het hom in die derde plek laat eindig.
Die vroue-afdeling is gewen deur Christine Dreyer met 'n knorhaan van 2.06kg. In die o.16-afdeling het Rocco de Reuck se kolstert van 0,5kg die wenprys gevat. Die grootste oneetbare vis is 'n hondhaai van 16,36kg, wat deur Jancle Coertze gevang is.
Die grootste knorhaan wat tydens rots-, strand- en riviermondings gevang is, is dié van Chris Joubert met 'n gewig van 2,62kg. Jodan Grobler het die grootste kolstert van 0,88kg gevang, en Reinhardt van der Merwe se leervis was die grootste met 'n gewig van 2,83kg.
Met dié kompetisie het die organiseerders die hengelgemeenskap bewus gemaak van die belang om vis vry te laat om sodoende die bronne te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’