Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Augustusmaand sal net nie dieselfde wees as die derby tussen Hoërskool Sao Bras en Hillcrest Sekondêre Skool nie gespeel word nie. Hierdie tradisionele kragmeting het glo in 1998 sy beslag gekry en sedertdien is beide skole ewe entoesiasties om mekaar tydens die derby te pak.
Die byeenkoms spreek deurgaans van goeie sportmansgees, juis omdat dit plaasvind aan die einde van die ligaseisoen. Behalwe vir hulle eer, het geen van die spanne dus iets om te verloor nie.
Verlede Donderdag het dié twee skole mekaar weer in die kenmerkende goeie gees die stryd aangesê. Sao Bras se spanne het in al die rugbywedstryde met die louere weggeloop. Netbal is nie altyd op die spyskaart nie, vanweë die beskikbaarheid van spelers om genoeg spanne op te maak.
Sao Bras het as wenners in die hoofwedstyd van die dag tussen die o/19-rugbyspanne, met 'n oorwinning van 24-8 uit die stryd getree. Volgens Ashley Muller, rugby-afrigter by Sao Bras, vier dié skool gewoonlik die botoon, maar dit sit Hillcrest beslis nie af om alles in die stryd te werp nie.
In die sewe jaar wat hy aan Sao Bras verbonde is, het sy skool vyf wedstryde gewen en in twee gelykop gespeel.
Aldus Muller vind baie huishoudings hulself soms verdeeld tydens die derby, aangesien daar soms Sao Brakkies en Hillcresters onder een dak is.
Hierdie foto toon die verbete spel tydens hierdie tradisionele derby.
Spogtrofee
Verlede jaar, het familielede van die afgestorwe Lugiano Gelderbloem (19), 'n voormalige leerder aan Hillcrest Sekondêre Skool wat 2017 deur 'n leerder van Groot-Brakrivier 'n fatale meswond toegedien is, 'n wisseltrofee ter ere van sy lewe vir die derby geskenk.
Lugiano was baie lief vir rugby gewees en self 'n kranige speler. Van sy familielede was weer eens verlede week by die derby met hulle T-hempies waarop 'n foto van 'n glimlaggende Lugiano verskyn.
Geskiedkundig aan verlede week se oorwinning is dat die nuut aangestelde hoof van Hoërskool Sao Bras, David Groenewald vir die eerste keer die oorwinnaars se trofee kon vashou nadat hy jarelank 'n personeellid van Hillcrest was.
Familielede van wyle Lugiano Gelderbloem wat 'n wisseltrofee om sy lewe te gedenk vir die derby geskenk het saam met die wenspan van Sao Bras. Foto's: Donovan Poole van DC Photography
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'