MOSSELBAAI SPORTNUUS - Boogskutters van St Blaize Archery is in volle swang om hulle sport te geniet. Die klub het die afgelope twee Saterdae by hulle baan buite Hartenbos byeengekom.
Met bykans 20 deelnemers wat hul entoesiasme op die baan kom wys het, was daar mans- en vroueskuts en selfs kinders so jonk as ses jaar oud wat deelgeneem het.
"Die baan was 'n nuwe uitdaging vir almal wat alreeds voorheen daar geskiet het aangesien ek die teikens bietjie rondgeskuif het," verduidelik Johan Boshoff van die klub. Ten tye van die twee byeenkomste was daar ook nuwe deelnemers wat vir die eerste keer op hierdie tipe baan geskiet het.
Die baan is sowat 2km lank en bestaan uit 20 3D-teikens.
Volgens Boshoff is die algemene gevoel oor die uiteensetting van die baan dat dit 'n baie realistiese gevoel gee. "Dis asof 'n mens regtig in die jagveld stap. Die deelnemers se mening was dat die diere baie goed geplaas is en meeste van die diere staan soos en waar 'n mens hulle in die veld sou verwag."
Die hoogste telling onder die mans is deur Ian Terblanche met 199 punte behaal. Onder die vroue, het Chantelle Phetherbridge die hoogste telling met 169 geskiet. Onder die juniors, was dit JC Phetherbridge met 147 punte.
Die volgende skietdag is op 10 Oktober. "Hierdie keer nooi ons ook ander klubs om by ons aan te sluit. Die baan maak 07:30 oop en ons begin om 09:00 skiet."
Vir meer inligting, kontak Johan Boshoff (076 274 3382).
Van die jongste deelnemers was maar ses jaar oud.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'