Video
GROOT-BRAKRIVIER SPORTNUUS EN VIDEO'S - Die jong Diolin Crause, wat verlede week teruggekeer het van die o/15 Internasionale bofbaltoernooi in Sonora, Meksiko, was die week reeds weer aan die oefen saam met sy spanmaats van die Groot-Brakrivier Sekondêre Skool.
Diolin vertel dat die toernooi in Meksiko baie lekker en 'n goeie leerervaring was.
Die Suid-Afrikaanse span het gesukkel om gewoond te raak aan die temperature van 54 grade Celsius wat vererger is deur hoë humiditeit.
Tog voel Diolin baie tevrede met sy vertoning en met die toer in die algemeen. Hy vertel, "Dis die eerste keer wat ek gevlieg het en die reis soontoe het 40 uur geneem, maar dit was 'n wonderlike ervaring".
Sy plaaslike afrigter, Haydon van Rooyen, is baie trots op Diolin se insluiting in die Suid-Afrikaanse o/15-span. Diolin se nuwe status as Eden se Sportman van die Jaar, het ook gehelp om nuwe belangstelling te wek en om meer spelers vir bofbal by die skool te werf.
Van Rooyen vertel dat Diolin reeds besig is om sy kennis en ervaring terug te ploeg deur sy spanmaats te help met die regte tegniek en die inoefening van vaardighede.
Diolin Crause, gebore en getoë in Groot Brakrivier, se droom is om oor 'n paar jaar vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Bofbalspan te speel.
VIDEO - Diolin Crause, wat as deel van die 0/15 SA Bofbalspan aan n Internasionale toernooi in Meksiko deelgeneem het, vertel meer van hul wedervaringe oorsee (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
VIDEO - Haydon van Rooyen, afrigter van die Groot-Brakrivier Sekondêre Skool se bofbalspan, gesels oor bofbal en Diolin se prestasies (Video: Alet Engelbrecht, Mossel Bay Advertiser).
Diolin Crause in die SA Nasionale 0/15-span se klere demonstreer hoe om 'n hou te speel.
Diolin Crause verduidelik aan een van die nuwelinge hoe om die "bat" vas te hou.
Afrigter Haydon van Rooyen en van die bofbalspelers van Groot-Brakrivier Sekondêre Skool.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'