Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Blinde gholf is besig om stadig maar seker te groei en die Suid-Afrikaanse Blinde Gholf Assosiasie (SABGA) het tydens hul landswye werwingstoer die afgelope naweek Mosselbaai besoek.
Ernst Conradie, bemarkingsbeampte van SABGA het die geleentheid gebruik om saam met plaaslike blinde gholfer, Morné Els 'n potjie gholf te speel.
Gesiggestremde gholfspelers word in drie kategorieë ingedeel naamlik +B1, wat totaal blind is en met 'n maksimum voorgee van -54 speel.
In die tweede kategorie, +B2 is gholfers wat minder as 2/6- sig het met 'n voorgee van maksimum -45. Laastens +B3 is dit spelers met sig minder as 6/60 met 'n voorgee van -36. Dit beteken dat 'n persoon 6/60 sig het kan 6m ver sien waar 'n persoon met volle sig, 60m kan sien.
Suid-Afrika is een van die lidlande van wêreld blinde gholf. Ander lidlande is Australië, Austria, Kanada, Costa Rica, Engeland, Wallis, Ierland, Hong Kong, Japan, Noord-Ierland, Skotland, Spanje, Argentinië, Kanarie Eilande, Dominikeinse Republiek, Duitsland, Israel, Meksiko en die Amerika.
Verskeie toernooie word jaarliks wêreldwyd aangebied soos in Amerika, Brittanje, Australië, Kanada, Ierland, Japan. Italië en Suid-Afrika. Dan is daar ook die Vision Cup en die Wêreld-blindegholfkampioenskap.
SABGA gaan in 2022 gasheer wees vir die Wêreld-blindegholfkampioenskap wat by die Milnerton-gholfklub in Kaapstad aangebied word.
VIDEO: Blinde gholf brei uit
Els het die tussen 6 en 8 Oktober die SA blindegholfkampioenskap gewen in sy kategorie. Hy het van jongs af gholf speel met sy pa as gids. Tans is hy een van die topspelers in die land. In 2018 het hy die Wêreld-blindegholfkampioenskap in Italië gewen.
Conradie spog self met verskeie prestasies onder andere in 2015 was hy onder die top 10 in die Britse ope. In 2019 het hy sesde in die Amerikaanse ope in Arizona gekom.
Enige siggestremde persone wat belangstel in blinde gholf of indien gholfspelers belangstel om as gids op te tree, kan hulle Ernst Conradie kontak (082 336 0909).
Blinde golfer en bemarkings-bestuurder van die Suid-Afrikaanse Blinde Gholf Assosiasie, Ernst Conradie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'