MOSSELBAAI NUUS - Gerrie Bester het hom die afgelope Saterdag as die beste skut by die Neill Calitz-skietklub se maandelikse skietkompetisie bewys toe hy met 36 punte as algehele wenner uit die stryd getree het.
Bester se oorwinning was die gevolg van deurgaans uitstekende skietwerk.
Hy het die 20 m-item gewen, tweede geëindig in die 20 m-snelvuur, derde in die 10 m-item, en twee vierde plekke behaal in onderskeidelik die 10 m met die 9 mm en die 10 tot 20 m-metaalsilhoeëtte, waar hy vier uit die vyf silhoeëtte platgetrek het.
Die tweede plek is deur Barney le Roux en Hannes Ingram gedeel, wat elk 33 punte aangeteken het. Le Roux het twee eerste plekke en ’n tweede plek behaal, terwyl Ingram se telling onder meer uit ’n eerste en twee derde plekke bestaan het.
Suzette Herrer was net een punt agter Le Roux en Ingram en het met 32 punte vierde geëindig. Sy het onder meer ’n eerste en ’n tweede plek ingepalm.
Donovan Day, Hans Willemse en Ivan Maddison het ook hul merk gemaak deur elk ’n eerste plek in hul onderskeie items te behaal.
Altesaam nege skuts het aan die kompetisie deelgeneem en die sonnige winteroggend ten volle benut.
Nuweling Luhan Krause het ’n belowende debuut gemaak met onder meer ’n derde en ’n vierde plek, terwyl Johan Uys ná ’n stadige begin sterk teruggeveg het om die dag met ’n goeie vierde plek in die 9 mm-item af te sluit.
Die maandelikse kompetisie het weereens die klublede se goeie kameraadskap en hoë skietstandaard beklemtoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’