Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om voltyds te boer met al die bedrywighede op 'n groot plaas, asook 'n volwaardige wedvlugduiweboer te wees is dalk makliker gese as gedaan. Veral as jy ouer as 70 is.
Maar Hekka Fourie (71) van die plaas Middelplaas in die Haelkraal-omgewing bewys die teendeel. Hy is 'n bedrywige boer en neem steeds aktief deel aan duiwewedvlugte, 'n sportsoort wat hy sedert sy skooldae beoefen.
Hy het grootgeword in Knysna. Toe twee van sy onderwysers op skool na die seisoen oortollige duiwe aan Hekka gee en met 'n ou karige hokkie, het sy liefde vir duiwe begin. In daardie jare het hy en sy vriende soos Neill Calitz duiwe uitgeruil en so het hul duifies aangeteel.
In 1970 verhuis sy ouers na Mosselbaai. Hy kry toe 'n ordentlike duiwehok van 'n plaaslike duiweboer, Hans Alberts, wat opgehou het om met duiwe te vlieg. Die hok was so groot dat hulle hom met 'n groot vragmotor van Knysna na die plaas op Mosselbaai geneem het.
Hier maak hy toe kennis met plaaslike duiweboere. Later jare het hy by die Mosselbaai-posduifklub aangesluit en in 1981 amptelik begin kompeteer in dié sport.
Foto: Jannie du Plessis
Marietjie, Hekka se vrou, handig trots haar man se fotoalbum oor. Daarin kan mens sien dat hy al 'n lang pad stap met wedvlugduiwe. Prestasies uit die verlede en hede pryk op elke bladsy.
Op van die foto's is sy seun, Willie en ook Marietjie wat van tyd tot tyd baie bygedra het tot sy duiwesport. Verlede jaar nog was een van sy duiwe 'n unie-, sowel as 'n klubwenner.
Met meer as 300 wedvlugduiwe op die plaas in verskeie duiwehokke en so tussen die saaiboerdery en ongeveer 400 melkkoeie, ry hy ook nog elke week met sy eie melktenkwa 60km heen en weer na Nestlé in Mosselbaai.
"Tyd is maar min en die werk op die plaas is baie, maar ek is lief vir my duiwe en sal met hulle vlieg tot ek eendag doodgaan," vertel hy.
VIDEO: Boer en duiweboer van formaat
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'