Video
TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS EN VIDEO - As jong seun en aspirant-boer het sy liefde vir diere van kleintyd af begin. Sy oupa het die liefde vir duiwe van jongs af by hom gekweek gedurende kuiers op die plaas buite Porterville.
JW Schutte, graad 9-leerder van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, het van jongs af vir oupa Tol Nel met die duiwe op die plaas gehelp.
Nel het hom met sy aftrede in Danabaai kom vestig en by die Mosselbaai-posduifklub aangesluit. Hier het hy verneem dat daar ook 'n junior afdeling is. Nel het toe sy kleinseun genader om ook by die klub aan te sluit.
Nadat hulle 'n paar duiwe gekry en ook self geteel het, het Schutte sommer van die begin af potensiaal met sy duiwe getoon wat goeie plekke vir hom gevlieg het.
JW is tans die voorloper op die punteleer van die junior afdeling in die Mosselbaai-klub en spog met ten minste vier eerste plekke in die klub.
Op 3 Julie het hy met die wedvlug van Britstown (408km) in die jaaroud-afdeling 'n derde plek behaal en in die ope afdeling vierde tot sesde plek. Op 17 Julie behaal hy 2de plekke in beide die jaaroud- en ope afdelings vanaf Marydale (526km).
Kyk 'n video hieronder:
Afkomstig van die plaas op Willowmore waar hy grootgeword het, is boerdery in sy bloed en wil dié jongman na sy skoolloopbaan eers verder studeer en dan gaan boer.
"Ek sal graag eendag wil boer met angorabokke en merinoskape," sê Schutte.
Op skool skou hy tans gereeld met angorabokke. Volgens Oupa Tol glo hy JW sal sy liefde vir die duiwe behou aangesien hy hom van jongs af aan hierdie sportsoort bekendgestel het en dit het 'n groot liefde in sy lewe geword het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'