Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - Die agtste AJ Sportweek het op Vrydag, 15 Maart in Mosselbaai afgeskop toe 32 deelnemende skole van regoor die land, gereed gemaak het om teen mekaar mee te ding op die rugby- en hokkievelde asook die netbalbane.
Rugby-, hokkie- en netbalspanne het professionele afrigtingsklinieke onder leiding van die land se top sportlui ontvang en die waardevolle raad is alreeds tydens die wedstryde uitgeoefen.
Saterdagaand was die skoolsaal van Hoërskool Punt volgepak toe die gewilde Mnr en Mej Sportskool aangewys is. Hierdie jaar se wenners is soos volg:
Mej Sportskool - Naunic Rossouw, Hoërskool Wolmaranstad (hokkie)
Eerste Prinses - Hanzel van Staden, Hoërskool Punt (hokkie)
Tweede Prinses - Zaundi-Lee de Klerk, Hoërskool Labori (netbal)
Mnr Sportskool - Reece Taljaard, Hoërskool Punt (rugby)
Eerste Prins - Dilan Habib, Hoërskool Adamantia (rugby)
Tweede Prins - Carel Rohbeck, Hoërskool Frikkie Meyer (rugby)
Nadat die spanne Sondag na afloop van ‘n jeugdiens kon ontspan, het afrigting en wedstryde in alle erns Maandag en Dinsdag plaasgevind. Alle finale wedstryde is Woensdagoggend beslis sodat die spanne vroegtydig die langpad huis toe kon aanpak.
Die sukses van hierdie jaarlikse geleentheid neem beslis toe in gewildheid. Volgens Sunel Kritzinger, afrigter van Hoërskool Vrede se netbalspan wat hierdie jaar vir die eerste keer aan die AJ Sportweek deelgeneem het, was die twee dae lange reis beslis die moeite werd. Plat van der Merwe, Hoërskool Daniëlskuil in die Noord-Kaap se netbalafrigter, het gesê dat dit vir van haar spanlede, die eerste keer was dat hulle die see gesien het. Hulle het elke oomblik van die afrigting en wedstryde geniet en die hoogtepun, was beslis die Mnr en Mej Sportskool-geleentheid.
Hoërskool Dispatch se hokkie-afrigter, Antoinette Engelbrecht sê dit was ook hul eerste AJ Sportweek en hulle het die Mosselbaaiers as vriendelik ervaar en Huis Pepler (Hoërskool Punt se koshuis) is beslis die beste plek om in tuis te gaan met die heerlikste kos. Luané Eksteen en Alexia Hartung van Hoërskool Melkbosstrand, twee netbalspelers, het glimlaggend aan die Advertiser gesê dat die Sportweek heerlik is, hulle baie leer maar ook dat hulle nou moeg gespeel is en daarna uitsien om te gaan rus.
Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Die plaaslike hoërskole wat deelgeneem het, het puik gevaar en daar word reeds uitgesien na 2020 se AJ Sportweek.
Kyk 'n video hieronder:
Spanne het professionele afrigtingsklinieke onder leiding van die land se top sportlui ontvang.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'