MOSSELBAAI SPORTNUUS - Tydens 'n bergfietsdag- en nagwedren wat oor 'n afstand van 361 km strek, bekend as die 36One, gaan geld ingesamel word vir gestremde pasiënte van die Beta@Home-tehuis, wat in Island View, Mosselbaai geleë is.
Volgens plaaslike fietsryer, Kobus Basson het hy met organiseerders van die wedren ooreengekom dat hy gaan deelneem en dat die publiek hom teen R1 per kilometer kan borg.
Kaartjies kos dus R361 en gaan ten bate van die tehuis vir onder meer toerusting, lakens en komberse.
Basson se broer Coenie is 'n inwoner van dié tehuis. Hy het op 53-jarige ouderdom 'n beroerte gehad en is aan die een kant van sy liggaam verlam. Coenie kan ook nie meer praat nie.
Die 36One is 'n 361 km navigasiewedren wat deur die Klein-Karoo met ongeveer 5 600 m klim plaasvind en deelnemers het 36.1 ure om dit te voltooi.
Die wedren vind op 13 en 14 November plaas.
Die uitdaging/afloswedren begin om 15:00 op 13 November by Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn en die halwe wedren begin om 06:00 op die 14de by die Highgate Volstruisplaas, Volmoed.
Die wat nie kans sien vir die volle 361km nie kan die half-wedren vanaf Volmoed aanpak deur die Rooiberg en Calitzdorp na Oudtshoorn, met die tweede helfte van die groot wedren.
Om vir Basson te borg kontak Annemie Maggee by Beta@Home (079 117 2193).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'