MOSSELBAAI NUUS - Die sewende agtereenvolgende Mosselbaai Sportfees, wat vanjaar - anders as ander jare - oor 'n maand strek, is luisterryk op Donderdagaand, 20 September amptelik geopen.
Mosselbaai-munisipaliteit, wat die fees oorhoofs koördineer terwyl die onderskeie sportkodes hul byeenkomste organiseer, het oor die jare die dorp as die sportmekka van die Suid-Kaap gevestig. Vanjaar neem meer as 45 verskillende sportsoorte aan die fees deel, met heelwat nuwe byeenkomste wat die program vir inwoners en besoekers ingeslyks opwindend maak.
Bevorder ubuntu
"Sport het die vermoë om mense te verenig en dit is die munisipaliteit se oogmerk om alle gemeenskappe, ook die afgeleë dorpe se sporttalent by die fees te betrek," het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal gesê.
Hy het verwys na twee items wat vanjaar as burgemeestersinisiatiewe nuut tot die program bygevoeg word; in die Mayoral Cup sal landelikge gemeenskappe se rugby- en netbalspanne dit tydens die eerste naweek in Oktober op Groot-Brakrivier uitspook, terwyl die Burgemeestersokkertoernooi die naweek daarna op die sokkervelde van Uitbreiding 13 aangebied word.
Foto: Nickey le Roux
Gesondheid en welstand
Die munisipale direkteur van korporatiewe sake, Edward Jantjies, die onoorwonne rekordhouer van die baie gewilde MossMarch, het inwoners uitgedaag om hom die stryd aan te sê op Saterdag, 29 September wanneer sowat 500 deelnemers na verwagting aan die geleentheid sal deelneem.
"'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees, die waarde van gesondheid vir die welstand van 'n gemeenskap kan nooit geringgeskat word nie."
Voor die amptelike verrigtinge het sportlui gesellig saam gekuier. Aden Jones (Mayoral Cup), en die skaakspelers en organiseerders Gershwin Kock, Ralph Botha en Björn October het die aand by die Café Gannet-restaurant geniet.
Foto's: Nickey le Roux
Sprekers het die borge vir hul bydrae tot die organisering van die fees bedank, en die atlete, wat spanne vanoor die hele land in die verskillende byeenkomste sal verteenwoordig, net die beste toegewens.
Joe Bantam het gaste met sy musiek beïndruk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'