MOSSELBAAI NUUS - Drie generasies - en drie genaamd Dawid, het saam die pas-afgelope Cape Town Cycle Tour, vroeër bekend as die Argus-fietsren, met groot sukses voltooi.
"Ons woon nou vier en 'n half jaar op Hartenbos," vertel Dawid senior, die oud-burgemeester van Prins Albert wat eens 'n leerkrag verbonde aan die Hoërskool Zwartberg was.
Sy liefde vir fietsry het in 2003 begin toe die burgemeesters van Karoo en Suid-Kaap uitgedaag is om 'n fietsryspan in te skryf om deel te neem aan die TOUR de EDEN, wat aangebied is ter bewusmaking van die naamsverandering van die distriksmunisipaliteit na die Eden Distriksmunisipaliteit. Prins Albert se span het uit Dawid en vier Joostes bestaan. Prins Albert het die trofee gewen Die jongste Jooste het 'n professionele ryer geraak en was vanjaar 12 sekondes na die wenner (Hoffman) oor die wenstreep.
"Ek kon die eerste Argus waarvoor ek ingeskryf het nie ry nie omdat, drie maande voor die Argus, 'n motor my van die fiets afgery het. Dit het twee jaar geneem om sodanig te herstel dat ek weer dit op 'n fiets kon waag. Verlede jaar het die wind ons Argusplanne in die wiele gery.
"Elf Argus-medaljes, waarvan die laaste een baie uniek is, pryk in my studeerkamer. My seun het al elf keer saamgery en die afgelope sewe jaar het die twee kleinseuns by ons aangesluit.
"Ons is so geseënd om die oefening, goeie gesondheid en die pragtigste roete saam te kon geniet," sê Dawid Snr.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'