Video
MOSSELBAAI SPORTNUUS EN VIDEO - Na agt dae en 1 470km later het drie fietsryers Saterdag, 29 Mei veilig by die Punt in Mosselbaai aangekom.
Gert Nagel, Barry Crouch and Wihl Vermaak het Saterdag, 22 Mei vanuit Mahaleni (Witbank) op hul fietse vertrek op 'n uitdaging om geld in te samel vir die Rizpah-bediening van die NG Kerk Klipfontein in Witbank se kinderhuise.
Volgens Nagel het hulle al die agterpaaie gery. Hy het gereeld in Mosselbaai vakansie gehou en het ook familie hier. Hy wou nog altyd as 'n uitdaging per fiets 'n tog aanpak na Mosselbaai.
Met Crouch en Vermaak wat ingewillig het om saam te ry, het hulle besluit om geld in te samel terwyl hulle die lang pad vat. Nagel se skoonpa, Sakkie Viljoen van Hartenbos was in die ondersteuningsvoertuig wat al die pad saam met die driemanskap gery het.
Wedervarings was daar genoeg en Vermaak is so 40km buite Witbank grond toe nadat sy fiets se handvatsel gebreek het. Gelukkig vir hom het 'n fietshandelaar van Witbank al die pad gery en hom kom help. Volgens die manne het bande hulle die tweede en derde dag gekortwiek. Vermaak se pa het al die pad van Witbank na Smithfield gery om vir hulle bande te bring.
Kyk 'n video hieronder:
"Net die wind het op dag vier en vyf ons in die Karoo baie seergemaak. Een dag het ons 'n 43km/uur winde gehad," vertel Vermaak. Volgens Crouch was die Swartbergpas baie mooi. Hulle het egter baie goeie ervarings gehad en pragtige tonele langs die pad gesien. Verblyf was in voorafgereelde plekke om die moeë en seer lywe te laat rus.
Net voor 11:00 op Saterdag, 29 Mei het die driemanskap by die Punt in Mosselbaai aangekom na hul laaste skof vanaf Oudtshoorn. Hulle familie en vriende het hulle heelhartig verwelkom. Teen Maandag het hul reeds R90 000 ingesamel en volgens Nagel het hulle hul teikenbedrag van R100 000 teen Dinsdag gemaak. Die drie het Sondag, 30 Mei met hul fietse vanaf George terug gevlieg na Gauteng.
Die Rizpah-bediening is gestig in 2005 en dit word beheer deur 'n bestuurskomitee van bestaande lidmate van die NG Kerk Klipfontein en die gemeenskap. Rizpah gee om vir die sorgbehoewende kinders van Witbank. In agt huise word meer as 60 kinders 'n kans in die lewe gegee deur opvoeding liefde en versorging. Die Spring Valley-crèche word ook deur Rizpah bedryf en befonds.
Sakkie Viljoen van Hartenbos hier saam met die drie fietsryers wat 1 470km vanaf Witbank tot in Mosselbaai gery het. Van links staan Gert Nagel, Wihl Vermaak en Barry Crouch hier by die Punt op Mosselbaai net na hul aankoms Saterdag, 29 Mei. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'