MOSSELBAAI ROLBALNUUS - Die gewilde Mosselbaai Classic vind weer hierdie jaar vanaf Donderdag, 26 Julie tot Saterdag, 28 Julie by die Mosselbaai-rolbalklub plaas.
Sedert die totstandkoming van die toernooi in 1992, het dit in 'n toonaangewende gebeurtenis ontwikkel en beklee dit ook 'n spesiale plek in die jaarprogram van Eden-rolbal.
Spanne van regoor die land word genooi om deel te neem en 24 spanne, bestaande uit vier mansspelers, gaan hierdie jaar weer in 'n verbete stryd gewikkel wees om vir die goue, silwer- en bronsmedaljes te kompeteer. Behalwe vir plaaslike spanne soos Hartenbos, Groot Brak, Outeniqua, George, Oudtshoorn, Leisure Isle, Ladismith en Vista, kom daar ook spanne van Edgemead, Gordonsbaai, Edenburg, Dewetsdorp, Goodwood, Ceres, Sishen, Middelburg (Kaap) en Bloemfontein Oud-Studente. Daar is ook spanne van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en SA Polisiediens.
Die formaat van die toernooi bepaal dat nege wedstryde oor die drie dae gespeel word en dit word op die basis van krag-teen-krag gedoen. Die finale rondes word op Saterdagmiddag gespeel en besoekers word hartlik uitgenooi om na rolbal van hoogstaande gehalte te kom kyk. Die klub is in Marshstraat in die Harry Giddeypark en spel begin daagliks om 09:00. Kom geniet Mosselbaai-rolbalkub se gasvryheid.
Mosselbaai-rolbalklub wil ook hiermee al ons borge vir hul volgehoue ondersteuning bedank.
'n Spesiale woord van dank ook aan al die klublede wat werklik baie hard agter die skerms werk om die perke in 'n goeie toestand te kry, die kombuis vir die voorbereiding van die eetgoed, die toernooikomitee vir die administratiewe funksies en natuurlik die kroegpersoneel wat sorg dat die dors geles word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'