MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die koue, winderige en welkome reën het verlede week die mees geesdriftige gholfspeler ‘n behoorlike nekslag toegedien.
‘n Klompie bittereinders het nogtans Woensdag, 21 Julie hulle opwagting gemaak en besluit om die weersomstandighede te trotseer.
Denzil Kleu Eiendomme het hulle maandelikse geborgde dag aangebied en die spelers het mekaar die stryd aangesê in die individuele stablefordkompetisie. Noël Domingo (voorgee 6) het die toestande goed hanteer en op 34 punte het hy die eerste prys beslis verdien.
Alfred du Plessis het enduit hard probeer om die wenner in te haal, maar op 32 punte was hy die naaswenner. Die ouer garde by name Markie Sciarone en André du Plessis, het al hulle vernuf nodig gehad om die toestande te tem en op 30 punte was hulle onderskeidelik derde en vierde. Gavin Reynolds het op 29 punte die vyfde prys verower.
Dankie Denzil dat jy ten spyte van die gure weersomstandighede so getrou jou reuse bydrae tot die klub en sy spelers maak.
Saterdag
Saterdag, 24 Julie was Mosselbaai weer sy ou selwers en en het 148 spelers in heerlike weersomstandighede gespeel, gelag en mekaar se vriendskap geniet. Die beterbal stablefordkompetisie het die manne en vroue entoesiasties laat kompeteer.
Wynand Stander (voorgee 7) het skitterende gholf gespeel en teken op sy eie 42 punte aan met ‘n bruto-telling van slegs 73 houe. Sy beterbal maat, Heinrich Rehr (voorgee 13), het die nodige bystand gegee en tesame eindig hulle op 46 punte om as wenners gekroon te word. Maklik was dit egter nie, want op 45 punte get Gareth Shippen en Leon Writes hard in hulle nekke geblaas.
Johann en Danie van Langelaar teken self ‘n verdienstelike 44 punte aan en sodoende betree hulle die derde plek op die podium. Anton Steenkamp en Oosie Oosthuizen moes op 43 punte egter die knie buig voor Tracy Venter en Gloria Greyvenstein wat hulle in die uittel getroef het.
Vergadering
Lede word net daaraan herinner dat daar Woensdag, 4 Augustus om 18:00 ‘n spesiale algemene vergadeing in die Mosselbaai-klubhuis sal plaasvind. Kwessies rakende veranderinge aan die Grondwet sal bespreek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'