MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die trekking vir die Winter-uitklopkampioenskap is op die kennisgewingbord aangebring en spelers word versoek om hulle wedstryde teen die vasgestelde tye te voltooi.
Die inskrywings wemel van vorige jare se wenners en 'n naam wat dadelik opval, is André Middel.
Hy is in 2018 en 2019 as die enkelspel-kampioen gekroon, maar ongelukkig kon hy as gevolg van die Covid-19-pandemie nie sy driekuns in 2020 voltooi nie.
Barry Vermeulen, Gert Pieterse, Martin Vorster, asook Danie van Langelaar het ook al die trofee tweekeer omhoog gehou. Wiekus Schoeman en Jean Borchardt het in 2017 en 2019 die dubbelspel-titel verower, maar ongelukkig is Wiekus verlede jaar oorlede. Mooi herinneringe aan hom sal egter voortleef in hierdie jaar se kompetisie.
Woensdag
Woensdag, 24 Maart het 144 spelers aan 'n individuele stablefordkompetisie deelgeneem. Een van die veterane, Martiens Mulder (voorgee 8) het skitterende gholf gespeel en op 41 punte het hy sy jonger teenstanders die loef afgesteek. Die talentvolle Ian Pautz (voorgee 1) was 'n waardige naaswenner op 40 punte. Goeie tellings is ook deur die volgende spelers aangeteken: A van Wyk en P Good (albei 39 punte), P Oosthuizen, R Serfontein en P Barnard (almal 38 punte.)
Saterdag
Die beterbal houespelkompetisie wat op Saterdag, 27 Maart plaasgevind het, het die spelers tot die uiterste beproef. Clive Kaptein en Ashwell Cameron se uitstaande samespel het gesorg dat hulle hul opponente ligjare ver agter gelaat het. Hulle telling van 55 houe het gesorg dat hulle hul naaste teenstanders met 7 houe geklop het.
Hilton Duminy (voorgee 6) en sy seun Jordon (voorgee +5), het self uitmuntend gespeel en neem die tweede plek op 62 houe in. Jordon het slegs 63 houe geneem om sy rondte te voltooi. David Bourhill en John Blythe-Wood (64 houe) het na die uittel derde geëindig met Michael Kriel en Brown Voster in die vierde plek. K en G Hauptfleisch (65 houe) kon ook nog 'n lekker vuurtjie gaan maak met die vyfde plek wat hulle behaal het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'