MOSSELBAAI NUUS - Gholfdolles se kinderlike geloof dat dit nooit reën op die baan nie, word allerweë skouerophalend aanvaar.
Maar gholfers wat in stormwind en reën presteer is 'n uitsonderlike scenario wat twee vrae wek: "Wat dryf hulle en hoe kry hulle dit reg? " Jors weet "troelie" nie en kan net vaagweg vermoedens hê ter vrywaring van lasterlike aanspreeklikheid.
Donderdag, 19 Oktober, het die stormwinde so gewoed en die reën was so dreigend dat min gholfdolles die vroue se beterbalsamespel stablefordkompetisie aangedurf het.
Desnieteenstaande, ondanks en ten spyte van alles, het Catherine Bell en Gloria Greyvenstein die eerste prys met 48 punte losgeslaan.
Natuurlik is albei goeie gholfers. Gloria het in hierdie onmoontlike omstandighede op haar 16 voorgee gespeel en Catherine het geskitter met vier onder haar voorgee van 26.
"Hoe" en "hoekom"? Slegs 'n ooggetuie sal eersgenoemde vraag kan beantwoord. Oor die "hoekom" kan buitestaanders bloot bespiegel.
'n Ligsinnige raaiskoot is dat Catherine stam uit daardie volk wat bekend is vir hul "Klok-konkoksie" asook hul versigtigheid met uitgawes.
Gloria vind dié dinge vermoedelik ook nie weersinwekkend nie.
Moedswilliges sou terg dat selfs die onstuimigste storms nie die passie vir prysgeld kon stuit nie.
Meer logies sou uitgelê kon word dat albei gedrewe, selfs gevaarlike, gholf-opponente is.
Hulle het so puik presteer dat hulle beslis 'n Bell's verdien. Dieselfde geld vir Shirley Greig en Jackie Braisher wat die naaswenners met 47 punte was.
Hijke Pretorius en Marita Pienaar het die derde prys verower met 45 punte. Susan Wright was die naaste aan die vlag op nommer agt en het ook 'n spogtweetjie behaal met haar set van anderhalf-meter.
Laetitia Higgs het die enigste ander spogtweetjie op nommer 12 behaal nadat sy die bal op die setperk sowat drie meter bokant die gaatjie gedryf het.
Volgens haar het die wind 'n bietjie hiermee gehelp. Maar Jors weet die moeilike afdraande set is nie gesink danksy die wind nie.
Dit is eerder die resultaat van Laetitia se toenemende beheer oor haar nuwe setter (toorstok).
ARTIKEL: TORS JOLLIE, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'