MOSSELBAAI NUUS - Spelers het op Woensdag, 20 September in groot getalle opgedaag om aan die maandelikse sakemannedag deel te neem.
Hierdie gewilde borgdag strek al oor baie jare danksy die lojale ondersteuning van 'n groep sakemanne.
Die beterbal stableford-kompetisie het uitstekende tellings opgelewer.
Van ons ouer garde, Nick Weideman en Wayne Mitchell was behoorlik op hulle stukke en op 50 punte was daar nie twyfel wie eerste prystafel toe sou stap nie.
Die 86-jarige Neels Mostert en sy maat, Louwtjie Louw, het ook die krane behoorlik oopgedraai en op 49 punte was hulle verseker van die tweede plek.
Die derde en vierde plekke het op 48 punte aan Gerhard en Susan Combrinck, asook Danie le Roux en Rouxwy van Wyk behoort.
Met die ruim borgskap van die sakemanne kon die volgende spelers ook voorraad huis toe neem vir die naderende nasionale braaidag: T Greyvenstein en J Fourie, D Nel en S van Vuuren (almal op 46 punte). G Rule en E Daacke se 45 punte het hulle ook met 'n glimlag huiswaarts laat keer.
Vrydag
Vrydagmiddag, 22 September het 'n klompie spelers salig onbewus van die naderende reënbui, aangetree vir die nege putjie (Fantastic Friday) kompetisie. 'n Paar bittereinders het sopnat by die klub opgedaag, maar moedig hul ronde voltooi.
Dudley du Plessis (20 punte) en Gordon James (19 punte) het die reënbui vrygespring en het die eerste en tweede plekke ingeneem.
Een van ons talentvolle juniors, Wouter Dercksen en ons klub se president, Paul Brits, het op 18 punte derde en vierde geëindig. Baie dankie aan Arrie van der Linde van Global Golf wat die dag geborg het.
Saterdag
Saterdag, 23 September het 170 spelers aan die individuele stableford-kompetisie deelgeneem. Die afdelingwenners was soos volg: A-afdeling (0-13): Mujahid Jacobs (40 punte); B-afdeling (13-22): André Zietsman (40 punte); C-afdeling (23+): Hanlie de Villiers (42 punte). Bart Saayman (40 punte) het die vierde prys ontvang.
Die volgende spelers het gesorg dat hulle ook na Braaidag kon uitsien: P Ruscenbaum (39 punte), M Parker, J Borchardt, K Briesies en G Pool, (almal op 38 punte).
M Mulder se 37 punte was ook 'n heerlike braaipak werd.
Die afgelope week was Mosselbaai-gholfklub bevoorreg om ons baan beskikbaar te stel vir die vroue interprovinsiale toernooi.
Ons land se beste amateur spelers van 14 provinsies neem aan hierdie toernooi deel.
Die groot aantal talentvolle jong spelers toon dat gholf en veral junior gholf kerngesond is in ons land.
Vanaf Saterdag, 30 September is ons baan weer oop vir ons lede en besoekers.
Lede moet daarop let dat vanaf 1 Oktober die afslaantye op kompetisiedae soos volg is: oggend vanaf 07:00 en middag vanaf 11:30.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'