MOSSELBAAI GHOLF-NUUS - Woensdag, 16 Januarie het 83 bittereinders ligte reën en stormsterk wind trotseer om aan die beterbal stablefordkompetisie deel te neem. André van Wyk en Hendrik Kriek het die moeilike omstandighede besonder goed hanteer en op 47 punte het hulle hul naaste teenstanders ver agtergelaat.
Anton Izaakse en Pieter Meyer se 43 punte is nie te versmaai nie en het hulle gerieflik as naaswenners uit die stryd getree. Boesemvriende Ryk Smit en Wally Melville het die stang stewig vasgebyt en op 39 punte het hulle die derde plek ingeneem.
Saterdag
Die veel meer aangenamer weerstoestande het op Saterdag 156 spelers baan toe gelok. Die beterbal houespelkompetisie het vereis dat spelers goed moes konsentreer en slim besluite neem. Danie van Zyl en Arthur Percival het aan bogenoemde vereistes voldoen en op 65 houe het hulle net-net die uittel teen Paul Ruschenbaum en Steve McNalley gewen.
Die derde plek het aan Sakkie van der Merwe en Tertius Teichert op 66 houe behoort. Die oorblywende plekke kon eers beslis word nadat die uittel proses toegepas is. Neville Minnies het met die hulp van sy spookmaat op 67 houe die vierde plek ingeneem.
Malan Barnard en Geoff Bernhardt, asook Neil Willis en Alan Marshall se 67 houe het hulle ook laat huiswaarts keer met heerlike vleispryse.
Gholfreëls
Spelers word versoek om vertroud te raak met die veranderinge aan die gholfreëls wat op 1 Januarie 2019 in werking getree het. As u enige onsekerheid oor die reëls het, is Albert Jordaan se vriendelike hulp en bystand tot u beskikking.
Voornemende ligaspelers word versoek om die kennisgewingbord te besoek en hulle name op die inskrywingslyste aan te bring. Ons het 'n trotse ligageskiedenis en sal vanjaar daarop wil voortbou.
Lede en besoekers word versoek om maar verdraagsaam te wees met al die bouery en brekery aan die klubhuis. Die eindproduk sal ons almal met trots vervul.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'