SPORTNUUS - Danksy Ou Mutual was die klubkampioenskappe van die Mosselbaaise gholfklub die afgelope naweek weer eens 'n groot sukses.
Op Saterdag, 20 Mei, het die spelers in perfekte weerstoestande dié pragtige baan aangedurf.
Die strewe daarna om as die kampioenspeler van dié spogklub gekroon te word, het die spelers aangespoor om van hul eerste bofhoue hul talente en vernuf ten toon te stel.
Die 62-jarige Leon van Schalkwyk (voorgee 5) het vroeg 'n waarskuwing aan sy jonger teenstanders gerig deur die eerste rondte met 'n skitterende 73 houe te voltooi. Waldo Vorster (voorgee 6) en Colin Brown (voorgee 4) het hulle opponente nog verder op hulle hoede geplaas deur albei 76 houe aan te teken. Die talentvolle Ulrich Steinhobel (voorgee +5) was ná die eerste ronde op 76 houe ook goed geplaas.
Sondag, 21 Mei, het aangebreek met heerlike reën wat geval het. Die reën het egter die wyk geneem en toe die eerste spelers om 10:00 afslaan, was dit weer eens in perfekte weersomstandighede. Steinhobel het van meet af die pap dik aangemaak.
Aan die einde van sy ronde het sy 74 houe verseker dat hy as die kampioen aangewys is. Sy bruto-telling van 150 houe het hom vyf houe voor sy naaste teenstander, Colin Brown (155 houe), geplaas. Die eerste dag se voorloper, Van Schalkwyk, het in die derde plek op 157 houe klaar gemaak. Michal Rehr, klubkaptein, was op 145 houe die gewilde netto-afdeling wenner met Vorster (146 houe) die naaswenner.
Ander afdelings
Kelvin Muller (171 houe) het in afdeling B koning gekraai met Craig Cameron (172 houe) die naaswenner. Roelof Engelbrecht het op 145 houe die netto-afdeling ingepalm. Die C-afdeling is deur Ray Kinsman (69 punte) oorheers met Joe Luggen (67) 'n kort kop agter hom in die tweede posisie.
In die afdeling vir juniors was dit Sam Gouws wat met die bruto-louere weggestap het. Hy het 159 houe aangeteken terwyl Kass Muller met 161 houe in die netto-afdeling koning gekraai het.
Die talentvolle 17-jarige Shani van Rooyen (nullo voorgee) het in die afdeling vir vroue haar derde agtereenvolgende titel verower met 'n bruto-telling van 167 houe en twaalf houe voor haar naaste teenstander, Michelle Potgieter, geëindig. Die netto-wenner was Christa van Luijk met 151 houe. Hermien Kade met 198 houe was baas in die bronsafdeling met Liezl Swart (200 houe) die naaswenner. Shirley Greig (158) was die netto-wenner. Die Koper-afdeling se wenner was Alda Wagener (64 punte) met die 89-jarige Annette Meyer (56 punte) die merkwaardige naaswenner.
Groot dank aan Len en Johann Strauss, asook Christoff Booysen van Ou Mutual wat al vir baie jare so getrou hierdie dag borg!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’