MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Dit is winter, met ander woorde dit is koud, bibber koud. Sneeu-moffies oor die ore en drie lae warm klere. Nogtans is die lug 'n kobaltblou met net hier en daar veegsels wit wolkies wat van die suide aangewaai word.
Maar diegene wat nog nie met die Mosselbaai-gholfklub se vroue te doen gehad het nie, sal nie kan begryp dat bogenoemde weersomstandighede, niks aan hulle gees en warm harte kan verander nie.
Met 'n puik komitee, gelei deur kaptein Laetitia Higgs, wat gedurig op soek is na nuwe idees om elke Donderdag opwindend te maak, het die vroue weer eens in spanne van vier, op die bowwe aangetree vir 'n opwindende drieslag Waltzing Matilda-kompetisie.
Op die eerste gat tel slegs een speler se telling, op gat twee, twee spelers se tellings en natuurlik gat drie, drie spelers se tellings. Die prosedure word dan herhaal tot die 18e.
Soos met enigiets in die lewe, het party mense natuurlik meer talente as ander en so het dit ook geblyk dat hoewel die versoek vir Mathilda was om te wals, sommiges oorgeslaan het na 'n two step of was dit dalk 'n mazurka?
Hoewel die gees só gewillig is, kan die vlees tog só swak raak. Maar nooit ooit het die gees verdwyn nie. Hiervan kan Chantelle getuig wat só begeesterd was dat sy amper een van die sandkuile se sand met 'n paar herhalings verplaas het.
Dan was daar Shirley wat met 'n fantastiese naderhou haar balletjie in die gaatjie beland het en 'n ander vierbal haar op 'n aangrensende setperk kon hoor gil.
Wenners van die Waltzing Mathilda-kompetisie is voor: Ilze Nel, Gail Botha, Mamma Jo, Cynthia Zietsman, Driekie Pienaar, Tracy Venter en Magda Kaltenbrunn. Tweedery: Regina Herbst, Hettie Bruwer, Rosie Gerber, Gloria Greyvenstein en Shirley Greig. Agter: Susan Wright, Martie du Toit en Marita Pienaar. Afwesig: Aletta Greyling.
Volledige uitslag
Die wenners met 87 punte: Rosie Gerber, Cynthia Zietsman, Marita Pienaar en Gloria Greyvendtein; tweede met 85 punte: Tracy Venter, Susan Wright, Driekie Parker en Shirley Greig; derde met 84 punte: Ilze Nel, Regina Herbst, Hettie Bruwer en Mamma Jo; vierde op 'n uittel ook met 84 punte: Gail Botha, Aletta Greyling, Martie du Toit en Magda Kaltenbrunn.
Naaste aan die pen: gat 12: Susan Wright; Twee houe: gat 4: Marita Pienaar; en gat 8: Annette Pretorius.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'