MOSSELBAAI NUUS - Honderd-vier-en-veertig entoesiastiese spelers het op Woensdag, 26 Julie baan toe gestroom om hulle slag te kom wys in die gewilde Sakemanne-dag.
Die vroue was behoorlik op hulle stukke en Annette Meyer (83 jaar oud) en Elmarie van Niekerk het die jonger garde gewys waar Dawid die wortels gegrawe het deur 48 punte in die beterbal stableford kompetisie aan te teken.
Nog 'n vrou, Toesie Dercksen en Jacques Borchardt, asook Pierre de Villiers en Arthur Percival en André Zeelie en Louw du Toit, het ook 48 punte aangeteken, maar na die uittel het hulle onderskeidelik die tweede, derde, vierde en vyfde plekke ingeneem.
Baie dankie aan al die Sakemanne vir hulle getroue en lojale borgskap.
Saterdag
Verskeie Suid-Kaap-ligaspanne het op Saterdag, 29 Julie op Mosselbaai kom kragte meet wat tot gevolg gehad het dat net 60 spelers aan die individuele stableford kompetisie kon deelneem.
Johan Buys was in 'n onkeerbare bui en op 44 punte het hy sy naaste teenstanders ver agtergelaat. Kosie Otto en Johan van den Berg het moedig probeer en op 40 punte het hulle onderskeidelik tweede en derde geëindig.
Shirley Greig se 39 punte het gesorg dat sy ook nog met 'n heerlike braaipak huiswaarts kon keer.
Ons twee voorgee-ligaspanne het teen Oubaai kragte gemeet. Donny Smith se span het hulle geleenthede behoorlik benut en met 8.5 wedstryde
teenoor 3.5 wedstryde het hulle gemaklik die knoop deurgehaak. Na twee wedstryde is hierdie span nog onoorwonne en groot verwagtinge word van hulle gekoester.
Wenners van Sakemanne-dag, van links, agter: A Percival, H Botha, W Mitchell, A Zeelie, J Borchardt en P Venter. Voor: L Wessels, E van Niekerk en A Meyer.
Roelof Combrinck se span moes tot aan die einde harde bene kou, maar die tuisbaan voordeel het miskien gehelp dat hulle naelskraap met 6.5 wedstryde teenoor 5.5 wedstryde die septer kon swaai. Wel gedaan manne. Doen so voort!
Augustus het aangebreek en binnekort behoort die natuur uit sy winterslaap te ontwaak en met die dae wat geleidelik rek behoort 'n rondte gholf na werk binnekort weer 'n werklikheid te word.
Stof solank die gholfstokke af en kom kry solank jou swaai reg op die oefenbaan! Lekker week aan julle almal!
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'