MOSSELBAAI NUUS - In die Suid-Kaap en in ons klub is ons bevoorreg om besondere jong talent in ons midde te mag hê. Twee weke gelede is Jordan Duminy as klubkampioen gekroon en Woensdag, 21 Maart het Martin Vorster ook sy teenstanders oorrompel in Global Golf se maandelikse houespelkompetisie.
Martin (voorgee +5) se bruto-telling van 66 houe in die A-afdeling was veels te goed vir sy moedige teenstanders. In die B-afdeling het Colin Bock (85 houe) ook 'n welkome terugkeer na die wennerspodium gemaak. 'n Besoeker van Robertson, Michael Swart, het die C-afdeling op 90 houe voor die plaaslike manne weggeraap.
Die volgende spelers het ook nog deel gehad in Global Golf se duursame pryse: F de Villiers en JJ Joubert, albei 67, asook CM Meyer, P Steenkamp en C van den Berg, almal op 69 houe. Baie dankie Arrie (Global Golf) vir julle jarelange lojale borgskap.
Saterdag
Saterdag, 24 Maart se beterbal syferpluskompetisie is net-net deur Peter Mintoor en Michael Kriel op +12 gewen.
Op +11 het die volgende spelers in hulle nekke geblaas: W Vorster en S Cronje, S Hawes en D Rhoda, asook N Hudson en W Brand.
Liga
Die Suid-Kaap-liga skop ook volgende maand af. Mosselbaai het drie spanne ingeskryf naamlik twee voorgee-ligaspanne, asook 'n Super Senior-span.
Die name van die spelers wat hulle slaggereed moet kry vir die liga-verpligtinge se name is reeds op die kennisgewingbord aangebring. Ons klub het 'n trotse liga-rekord en ons glo hierdie jaar sal ons ook groot sukses behaal.
Spelers moet ook daarop let dat vanaf 1 April die afslaantye as volg verander: Maandae vanaf 10:00: Dinsdae, Donderdae, Vrydae en Sondae vanaf 08:00: Woensdae en Saterdae vanaf 07:30.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'