MOSSELBAAI SPORTNUUS - Met die jaar wat vinnig ten einde spoed is die klubaktiwiteite ook fluks besig om na ‘n hoogtepunt te beweeg.
Die winter-uitklopkompetisie het al die eerste kwarteindronde bereik met verlede jaar se kampioen, Gert Pieterse wat die ervare Danie van Langelaar se aanslag beëindig het.
Morné Hugo sal sy staal moet toon teen Karools Hauptfleisch wat na sy aftrede skitterende gholf speel. Een van die gedugste stalperde, Sakkie Morrison, sal sy hande behoorlik volhê teen die bestendige Gavin Wales. In die dubbelspel is Gert Pieterse en sy maat, Chris Barnard ook lustig besig om alle teenstand teen hulle te tem.
Woensdag
Op Woensdag, 12 Oktober het 154 gholfspelers in heerlike lenteweer ‘n genotvolle dag op die gholfbaan beleef. Nashua, was soos gewoonlik weer aan die spits van sake met hul borgskap en het verseker dat goeie spel goed beloon is. ‘n Man wat deesdae die tonge los het, is die 81-jarige Vic Moll.
Nie net was hy die wenner die vorige Saterdag nie, maar Woensdag het hy op eie stoom die individuele stablefordkompetisie ingepalm. Sy 40 punte het hom saam met Leon van Schalkwyk bo laat eindig, maar na die uittel moes Leon met die tweede plek tevrede wees.
Die bestendige Waldo Vorster (39 punte) was derde. Ryk Smit en Barry Vermeulen met albei op 38 punte, was onderskeidelik vierde en vyfde.
Dankie Werner Botha en Nashua vir nogmaals ‘n suksesvolle dag. Die 14mm reën wat gedurende die naweek op die baan geval het, was soos manna uit die hemel. Geen kompetisie het op Saterdag, 15 Oktober plaasgevind nie, maar die welkome reën is met ope arms ontvang.
Klubkampioenskappe
Op Saterdag, 10 en Sondag 11 Desember, vind die klub se jaarlikse klubkampioenskappe plaas. Die inskrywingslyste is reeds op die kennisgewingbord. Skryf vroegtydig in om teleurstelling te voorkom.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'