MOSSELBAAI NUUS - Die afgelope langnaweek het gesorg dat die Mosselbaai-gholfklub 'n miernes van bedrywighede was. Besoekers landwyd het hulle opwagting by die klub gemaak en ons mooi baan ten volle geniet.
Op Woensdag, 25 April het die sakemanneborgdag weer vir groot pret, plesier en heerlike gholf gesorg. Die beterbal stablefordkompetisie is deur
Ricus Serfontein en Toesie Dercksen op 'n stewige 48 punte gewen. 'n Hele klomp spelers het op 46 punte om die tweede plek baklei en na die uittel het Barry Vermeulen en Jannie Lourens die plek ingeneem. M Sciarone en I Wessels, P le Grange en F de Villiers het onderskeidelik die derde en vierde geëindig.
Die sakemanne het ook gesorg dat die volgende spelers op 45 punte met heerlike pakke vleis huiswaarts keer: W Kotze en M Rehr, L du Toit en A Zeelie, V Singh en N Singh, D Swart en A van Aswegen, asook G Combrinck en W Roos. Wouter Kotzé het as wenner van die groep sakemanne sy prys omhoog gehou. Hartlike dank aan die groep sakemanne wat al vir baie jare hierdie gewilde dag borg.
Vrydag
Clive Kaptein het op Vrydag, 27 April die vakansiedag behoorlik gevier deur op 42 punte die A-afdeling van die individuele stablefordkompetisie met 'n skitterende telling van 42 punte te wen. Die B- en C-afdelings is onderskeidelik deur A Evertse (37 punte) en W Nel (32 punte) gewen. H Kriek (41 punte), W Bekker (40 punte) en A Middel (40 punte) was die ander pryswenners.
Die wenners by die sakemannedag is van links, agter: W Kotzé, M Rehr, F de Villiers, P le Grange en J Lourens. Voor: I Wessels, M Sciarone, R Serfontein en B Vermeulen.
Saterdag
Die beterbal houespelkompetisie wat op Saterdag, 28 April plaasgevind het, het 174 spelers baan toe gelok. Jacques Budricks, verlede jaar se klubkampioen, en Jaco Fourie se bestendige spel het gesorg dat hulle op 61 houe die bo-toon voer.
Op 62 houe het Louis Botha en sy spookmaat, asook die twee broers, Jacques en Jean Borchardt, die tweede en derde plekke ingeneem. Twee van ons veterane, Wayne Mitchell en Nick Weideman het op 63 houe, na die uittel, seker gemaak dat die vierde plek aan hulle behoort. Twee van ons vrouelede, Shirley Greig en Gloria Greyvenstein (63 houe), het die vyfde plek ingeneem.
Gholfspeler van die jaar
'n Verbete stryd is aan die opbou om die gholfspeler van die jaar te bepaal. JJ Joubert loop tans voor op 29 punte, maar Gert Pieterse blaas hard in sy nek op 24 punte.
Die volgende spelers is beslis ook nog in die wedloop:
Arrie van der Linde (23 punte), Jonathon Shelver (21 punte), Francois de Villiers (20 punte) en Gloria Greyvenstein (20 punte). Daar is egter nog 'n hele klomp spelers wat die spreekwoordelike appelkar kan kom omgooi Spelers het nog tot 30 Junie geleentheid om hulle stemme dik te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'