MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die milde reën wat verlede week uitgesak het, het 'n iedere en elk se harte verbly. Dit is opmerklik hoe gou die dorre aarde 'n groen kleedjie aangetrek het.
Die vrolike gekoer van die duiwe, die rondhuppel van die springbokkies en selfs die fisante en tarentale se rondjaag van mekaar, weerspieël die blydskap ook in die diereryk. Die heerlike reën het gesorg dat Woensdag, 6 September en Saterdag, 8 September se kompetisie, asook die ligawedstyde afgelas is.
Sondag, 9 September het ons klub se geesdriftige vroue onder leiding van Laetitia Higgs (vrouekaptein) 'n heerlike Lentedag-kompetisie aangebied.
Die vierbal alliansie kompetisie is deur twee egpare, naamlik Div en Hanlie de Villiers, asook Douw en Regina Herbst op 111 punte gewen.
Die tweede plek op 103 punte is ook deur twee egpare naamlik Wayne en Tertia Mitchell, asook André en Cynthia Zietsman ingeneem. 'n Vrolike dag se gholf is afgesluit met 'n heerlike ete.
Mosselbaai-gholfklub se algemene jaarvergadering vind op Vrydag, 28 September om 19:00 in die klubhuis plaas. Benoemings vir drie raadposte, naamlik tesourie/finansies, fasiliteite en bemarking moet voor of op 14 September by die klub ingehandig word. Nominasievorms is by ontvangs beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'