MOSSELBAAI GHOLF NUUS - Die afgelope week is gekenmerk deur besondere hoë tellings wat die spelers op die Mosselbaai-gholfbaan aangeteken het. Op Woensdag, 16 Oktober het Denzil Kleu Eiendomme hulle naam van uitnemenheid gestand gedoen deur 140 spelers die geleentheid te bied om aan die individuele stablefordkompetisie deel te neem.
Stephen Terblanche wat vanaf 'n voorgee van 19 speel, het letterlik sy teenstanders soos 'n tsoenami getref en net eenvoudig oor hulle gespoel.
Hy het vriend en vyand verrras deur 'n ongelooflike wentelling van 50 punte aan te teken. Veels geluk Stephen, dit is voorwaar 'n besonderse mylpaal. Noël Domingo en Pieter Venter se ewe briljante tellings van 43 punte het hulle tweede en derde laat eindig. Op 42 punte het Johan Buys en Ernest Rhodes ook nog gedeel in die borg se duursame pryse.
Saterdag
Wêreldbeker-rugbytoernooi het Saterdag, 19 Oktober die ronde gewen aangesien net 100 spelers aan Global Golf se maandelikse borgdag deelgeneem het. Michael Kriel (voorgee16) wat deesdae weer gereeld sy stem dik maak, het met 'n briljante telling van 46 punte die individuele stableford kompetisie gewen. Kort op sy hakke was Johann Strauss (voorgee 4) met 'n ewe uitstekende telling op 45 punte.
Nog was dit nie die einde van die uitmuntende tellings nie, want Gloria Greyvenstein (voorgee 14) se 44 punte het aan haar die derde plek besorg. Neil Hornbuckle en JJ Joubert se 40 punte was ook nog goed genoeg om in Global Golf se pryse te deel.
Dankie Arrie en jou span vir julle getroue borgskap.
Winteruitklop-kompetisie
Leeutemmer Gary Brandt loop trots rond nadat hy byna die onmoontlike vermag het om Gert Pieterse in die halfeindronde van die Winteruitklop-kompetisie te klop. Gert was na voltooiing van die eerste nege putjies nog drie putjies op, maar Gary se meedoënlose aanslag op die tweede nege het Gert uiteindelik geknak.
Gary wag nou vir die wenner van die ander halfeinstryd, Ferdie Jonck en André Middel, om te beslis wie 2019 se uitklopkampioen gaan wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'