MOSSELBAAI NUUS - 'n Suksesvolle gholfdag is weer eens op Woensdag, 19 Januarie deur Denzil Kleu Eiendomme aangebied. Die individuele stablefordkompetisie is deur 168 spelers ondersteun en Talvin Schultz het op 40 punte die louere ingeoes.
Chris Barnard en Michael Kriel het kwaai teenstand gebied, maar na die uittel op 39 punte is hulle tweede en derde geplaas.
Twee ou strydosse, Russel Hendry en Wouter Kotze het op 38 punte die oorblywende pryse ingepalm. Dankie Denzil dat jy ten spyte van al die Covid-19-beperkings nog so getrou die klub ondersteun.
Saterdag
JJ Joubert het met groot sukses sy spannetjie bestaande uit Gielie Gagiano, MF Barnard en Louw Strydom gelei om Saterdag, 22 Januarie die vierbal alliansie-kompetisie met 'n verdienstelike 121 punte die wenstreep eerste verby te steek.
Die mediese span bestaande uit Pieter Steenkamp, Gys Wilson, asook Alwo Dercksen en sy seun Wouter, het op 120 punte as naaswenners uit die stryd getree.
Die span wat die derde plek ingeneem het, is 'n klinkklare bewys dat ouderdom nie noodwendig 'n remskoen in ons wonderlike spel is nie. Hennie Klopper, Elias Engels, Les en Hester de Jager se gemiddelde ouderdom is 79 jaar. Hulle het ook 120 punte aangeteken.
Baan gesluit
Besoekers en lede moet daarop let dat die baan vanaf Sondag, 30 Januarie om 13:00 sluit. Maandag, 31 Januarie en Dinsdag, 1 Februarie sal die baan ook gesluit wees, aangesien dringende werk (hollow tine) op die baan gedoen moet word. Woensdag, 2 Februarie sal die baan soos gewoonlik oop wees.
Die nuwe klubbestuurder, Steve Basson, al die pad van Namibië, sluit ook Dinsdag, 1 Februarie by ons aan en ons wens hom alle sukses, voorspoed en geluk toe in sy nuwe omstandighede.
Weerstoestande
Die bloedige hitte, droë wind en dan nog digte mis tussendeur, is besig om ons gholfbaan swaar te tref.
Reën is nou dringend nodig en ons baanbestuurder se hande is afgekap as hy nie voldoende water het om die baan klam te hou nie.
Na 'n strawwe seisoen, met duisende voete wat oor die baan beweeg het, is koeler weer en reën beslis nou baie nodig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'